Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Geen getuienis oor kamera: ‘Jaagduiwel’ skotvry

’n Vermeende jaagduiwel van Johannesburg is skotvry nadat geen getuienis in sy verhoor gelewer is oor hoe die spoedkamera opgestel is op grond waarvan hy vasgetrek is nie.

Bob Makukunzva, ’n prokureur van Johannesburg, se appèl in die hooggeregshof in Bloemfontein het geslaag nadat hy vroeër in die landdroshof ’n boete van R4 000 of vier maande tronkstraf op die lyf geloop het omdat hy glo teen 181 km in ’n 120 km-sone buite Bloemfontein gery het.

Die beweerde oortreding is op 1 Maart 2017 op die N1-hoofweg in ’n wit Mercedes-Benz naby die Werda-plaas in die Bloemfontein-distrik begaan.

Luidens hofstukke in die appèlverhoor in die hooggeregshof het Makukunzva aangevoer dat die staat nie in die landdroshof bewys het dat die spoedkamera, ’n Prolaser 4, soos voorgeskryf, op ’n ferm en stabiele oppervlak opgestel was nie en dat die staat daarom misluk het om die betroubaarheid van die spoedkamera te bewys.

Regter Johann Daffue het in sy uitspraak, wat deur regter Lani Opperman gesteun is, gesê dit is duidelik dat Makukunzva die behoorlike werking van die toestel betwis het.

Daar is geen bewyse hoegenaamd oor hoe die toestel opgestel is en of dit aan die vervaardiger se riglyne voldoen het nie.

Voorts moes die staat bewys het dat die spoedtoestel betroubaar en akkuraat was en ook behoorlik opgestel was.

“Sekerlik sal selfs ’n goed vervaardigde en gekalibreerde toestel, indien dit nie volgens die spesifikasie van die vervaardiger opgestel is nie, nie behoorlik werk nie, andersins sal die spesifikasies oorbodig wees. Neem byvoorbeeld ’n splinternuwe yskas wat onderstebo geplaas word deur sy eienaar – dit sal nie behoorlik werk nie,” sê hy in sy uitspraak.

Luidens die uitspraak is die afwesigheid van bewyse dat die toestel op ’n ferm oppervlak opgestel is, betreurenswaardig.

“Daar is geen bewyse hoegenaamd oor hoe die toestel opgestel is en of dit aan die vervaardiger se riglyne voldoen het nie.”

Die uitspraak lui voorts die aanklaer moes verseker het dat getuienis gelewer is oor die opstel van die toestel.

“Een sin sou voldoende gewees het, soos dat hy die toestel in ooreenstemming met die spesifikasies van die vervaardiger opgestel het. Soos die rekord aandui, was daar geen getuienis dat die toestel behoorlik en in oorstemming met die spesifikasies van die vervaardiger opgestel is nie. Gevolglik het die staat misluk om die betroubaarheid van die toestel in die spesifieke voorval te bewys.”

Die appèl is deur adv. Koenie Pieterse vir Makukunzva en adv. Rudolph Hoffman vir die staat hanteer.

Meer oor:  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.