Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Geheime brief’ veroorsaak drama in Zuma-saak

’n Geheime brief – glo korrespondensie tussen die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke – is Donderdag op die nippertjie as bewysstuk aangebied in die hofsaak waarin oudpres. Jacob Zuma aansoek doen om die staking van sy vervolging.

Jacob Zuma
Oudpres. Jacob Zuma

Adv. Muzi Sikhakhane, wat namens Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg optree, het vyf minute voor die hof sou verdaag, aangekondig hy het ’n brief wat hy aan die hof wil voorhou.

Dit hou glo verband met ’n ondersoek van die NVG wat Penuell Maduna, voormalige minister van justisie, en oudpres. Thabo Mbeki betrek.

Die brief ondersteun glo Zuma se vroeëre bewerings dat daar ’n politieke sameswering was om van hom ontslae te raak. Dit het volgens Zuma uiteindelik gelei tot die klagte teen hom.

Zuma word aangekla van korrupsie, rampokkery, geldwassery en bedrog. Die appèlhof het vroeër bevind die motivering vir Zuma se vervolging is irrelevant. Adv. Wim Trengove SC, vir die staat, het dit Donderdag ook weer in die hof beklemtoon.

Sikhakhane sê die politieke inmenging in Zuma se saak is duidelik. Zuma het vroeër in ’n verklaring gesê Maduna, Mbeki en adv. Bulelani Ngcuka het met hom vergader om hom te oortuig om die politiek te verlaat.

Mail & Guardian het reeds in 2015 berig dat Zuma in hofdokumente verwys het na ’n vergadering in 2003 ten tyde waarvan Mbeki hom glo R20 miljoen aangebied het om die politiek te verlaat. Na wat verneem word, hou die brief wat Sikhakhane Donderdag aangebied het, direk hiermee verband.

Trengove het beswaar aangeteken teen die brief en gesê as Zuma se span vars bewyse so laat in die hofgeding wil indien, moet hulle ’n spesiale aansoek daarvoor bring.

Die hof het verdaag nadat die regspanne opdrag gekry het om ’n ooreenkoms te bereik oor die brief. As hulle dit nie regkry nie, sal ’n aansoek Vrydag ingedien word om die brief as bewys in die saak toe te laat.

’n Woordvoerder van die Valke het gesê geen kommentaar sal oor die brief gelewer word nie voordat dit as bewysstuk in die hof toegelaat is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.