Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gekraakte huise lei tot groot eis teen Mosselbaai

Rapport het op 3 Februarie in ‘Gekraakte huise lei tot groot eis teen Mosselbaai’ berig dat huiseienaars van die Seemeeupark- en Tuscan Village-behuisingsontwikkelings in Mosselbaai ’n skadevergoegingseis teen die munisipaliteit ingestel het.

Dit is die Seemeeuvlug- en Tuscan Village-behuisingsontwikkelings. Seemeeupark is die groter woonbuurt waarin hierdie ontwikkelings voorkom.

 


 

Altesaam 62 eienaars van spoghuise in Mosselbaai wat onbewoonbaar geword het nadat die grond onder die fondamente begin meegee het, eis nou skadevergoeding van die plaaslike munisipaliteit.

Massiewe krake skeur huise in twee in Seemeeupark in Mosselbaai.

Die eienaars, wat soveel soos R4 miljoen per huis eis asook verlies aan inkomste, beweer in hofstukke die Mosselbaaise munisipaliteit was grof nalatig toe hulle in 1999 die behuisingsontwikkelings Seemeeupark en Tuscan Village goedgekeur het – ondanks waarskuwings dat die gewraakte stuk grond nie geskik is vir ontwikkeling nie.

Gapende skeure het sedert 2015 in die mure en vloere van huise in dié spogkomplekse begin verskyn, omdat die grond gedurig geskuif het. Rinette van Niekerk was een van die eienaars wat in September 2016 sewe dae gegee is om haar huis te ontruim omdat dit onveilig geraak het om daarin te woon.

Talle huise is intussen deur die munisipaliteit gesloop.

‘Die gemors kon verhoed gewees het.’

Van Niekerk het die destydse raadsbesluit om die ontwikkeling goed te keur vir Rapport gegee.

In dié dokument waarsku die stadsbeplanner die munisipaliteit oor ’n ou steengroef op die grond waarop glad nie huise gebou moet word nie. Volgens huiseienaars wys lugfoto’s die huise is toe wel gebou op die deel van die grond waarop die steengroef eens was.

Rapport is ook in besit van ’n brief van die departement van sport en kultuursake wat 19 jaar gelede opnames oor die plantegroei op die grond gedoen het. Hierin word die munisipaliteit gewaarsku dat ’n omgewingskonsultant nooit aangestel is om assessering oor die grond te doen nie.

Massiewe krake skeur huise in twee in Seemeeupark in Mosselbaai.

Patrick Beales, ’n geotegniese ingenieur, sê die verskuiwings onder die grond gebeur tot 18 m diep, wat dit onmoontlik maak om die oppervlak weer te stabiliseer. Die grond skuif elke dag steeds etlike millimeter.

Tot dusver het baie eienaars gesukkel om hul skade by hul versekeraars te verhaal. Zurich South Africa, wat 17 van die huise in Seemeeupark verseker het, het in 2016 eise vir strukturele skade aan dié huise geweier omdat inligting oor materiële strukturele afwykings glo weerhou is.

Van die eisers, soos die egpaar Da Silva, eis luidens die hofstukke ook hul pensioen en spaargeld by die munisipaliteit omdat hulle nou daardie geld aan huur moet bestee.

So skuif die grond.

DJ Goosen het sy aftreehuis laat bou en beweer sy gesondheid ly nou weens stres omdat hy al sy spaargeld aan die huis bestee het.

Die eienaars se regspan vra ook verskeie dokumente wat die munisipaliteit sover nie kon of wou verskaf nie, soos die diensooreenkomste voor konstruksie.

“Die gemors kon verhoed gewees het as die owerhede hul werk volgens voorgeskrewe wetgewing gedoen het, maar nou draai hulle om en maak asof dit ’n natuurlike grondverskuiwing was,” sê Van Niekerk.

Die stuk grond was eens as die plaas Vyf Brakke Fonteinen bekend, maar die munisipaliteit wou nie sê wie die grond destyds besit het nie.

Die Mosselbaai-munisipaliteit se regsverteenwoordigers sê hulle gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie omdat hulle die saak as sub judice beskou.

“Verdere pleitstukke sal gedurende die regsproses tussen die partye uitge­ruil word,” sê die munisipaliteit.

Meer oor:  Mosselbaai  |  Boubedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.