Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gelag oor kunsteraad se somme met trane betaal

Al het ’n groep kunstenaars pas ’n veldslag in die voortslepende oorlog oor noodfinansiering verloor, dreig verskeie betrokkenes in die bedryf met nóg hofgevegte oor die Nasionale Kunsteraad se benadering van “vat wat ons aanbied of verbeur dit”.

Die operasangeres Sibongile Mngoma in Nasionale Kunsteraad se kantoor wat sy sedert 3 Maart in ’n sitstaking beset. Foto: Deon Raath

Vrydag het die hooggeregshof in Johannesburg ’n groep kunstenaars beveel om hul sitstaking in die raad se kantoor in Newtown onmiddellik af te las.

Die operasangeres Sibongile Mngoma het op 3 Maart op haar eie met die protesoptrede begin en ander kunstenaars het later by haar aangesluit.

Die raad het noodfinansiering van R300 miljoen van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping ontvang, maar die uitbetaling daarvan is weens ’n “wiskundige fout” vertraag. Nadat die raad kontrakte met 613 van 1 374 begunstigdes gesluit het, het hy besef hy het nie geld oor vir die orige 761 nie. Daarop het die raad die bestaande kontrakte gewysig, wat beteken elke begunstigde kry tot 70% minder as wat aan hulle beloof is.

Volgens die raad sal dié wat dit nie aanvaar nie, die geld verbeur.

Sy moet kontrak­teurs betaal.

Mngoma het Vrydagaand ná die hofuitspraak in ’n regstreekse Facebook-uitsending gesê: “Hulle is misdadigers wat die regstelsel gebruik teen onskuldige mense wat antwoorde soek.” As die kuns­teraad hulle nie steur aan kontrakte wat hulle met kunstenaars sluit nie, hoef sy haar nie aan ’n interdik te steur nie, het Mngoma gesê.

Verskeie organisasies, ondernemings en individue in die bedryf waarsku die kunsteraad in prokureursbriewe sy besluit om kleiner bedrae vir projekte uit te betaal kom op kontrakbreuk neer.

Monica Newton, hoof van die Nasionale Kunstefees (NAF), sê hul regslui staan gereed om die kuns­teraad vir ’n tweede keer hof toe te neem om die res van die toelaag van R8 miljoen te kry wat die raad in Januarie aan hulle toegeken het. Die raad het die kunstefees op 9 Maart ingelig hulle kry net sowat R3,4 miljoen en gedreig dat enigiemand wat nie die aangepaste bedrag aanvaar nie, nie ’n sent sal kry nie. Die kunstefees het reeds ’n hofbevel verkry waarvolgens die raad die R3,4 miljoen onmiddellik moet betaal.

Newton sê hulle praat tans met Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, se kantoor oor die saak, maar beplan om weer hof toe te gaan as die kunsteraad nie die kontrak nakom nie.

Mthethwa het twee weke gelede “onvoorwaardelik om verskoning gevra” vir die raad se wanbestuur van die noodfinansiering.

“Meer as 400 mense se lewens word deur die kunsteraad se besluit geraak. Ek kan hulle nie in die steek laat en die kunsteraad se besluit net gelate aanvaar nie,”sê Newton.

Yvette Hardie, hoof van die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jong Mense (Assitej SA), sê hulle gaan voort met ’n hofgeding teen die raad om hulle ten volle te betaal vir ’n teaterproduksie wat in Januarie goedgekeur is. Hardie sê die raad het oorspronklik ooreengekom om R448 200 vir die projek te gee.

Sy kon elkeen van die 27 kunstenaars wat sy vir die projek aangestel het R5 500 per maand betaal.

Toe die raad besef sy geld gaan opdroog, het hy die ooreenkoms gewysig en slegs R3 500 vir elke begunstigde aangebied.

Die raad het R313 740 in die eerste van twee paaiemente aan Assitej SA uitbetaal – maar ná die wysiging van die ooreenkoms is die somtotaal tot R294 165 verlaag. Die raad eis nou dat Assitej SA R19 575 aan hom terugbetaal.

Hardie sê sy moet nou kontrakteurs betaal terwyl sy nie die beloofde geld ontvang het nie.

“Die kunsteraad se onwettige en eensydige besluite is ’n finansiële ramp vir ons en baie ander kuns­tenaars.

“Hulle was veronderstel om kunstenaars te ondersteun, maar ons is in ’n baie slegter posisie gelaat weens hul swak bestuur van die geld en hul rampspoedige besluite.”

Nadia Virasamy, hoof van die Johannesburgse dansgeselskap Moving into Dance, sê haar personeel se salarisse is sedert April verlede jaar met 50% gesny.

Die kunsteraad het R215 000 se noodfinansiering vir haar 13 personeellede toegestaan en R151 000 aan hulle uitbetaal. Ná die wysiging van die ooreenkoms is die somtotaal na R141 000 verlaag. Sy skuld die kunsteraad nou ’n terugbetaling van R10 000.

Meer oor:  Sibongile Mngoma  |  Sitstaking  |  Kunstenaars  |  Protes  |  Akteurs  |  Nasionale Kunsteraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.