Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gelykheidshof se uitspraak oor EFF ‘stel Sanef teleur’

Die Suid-Afrikaanse redakteursforum (Sanef) is teleurgesteld dat hy sy saak teen die EFF in die gelykheidshof verloor het.

Sanef het die hof gevra om te bevind dat uitsprake van Julius Malema, EFF-leier, sy kollegas en volgelinge neerkom op haatspraak en teistering.

Regter Daisy Molefe het die aansoek van die hand gewys. Sy het in haar uitspraak op ’n sitting van die gelykheidshof in die hooggeregshof in  Pretoria gesê die media word nie beskerm deur die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie nie.

Verder het Molefe bevind dat aanstootlike of omstrede sienings nie noodwendig geklassifiseer kan word as haatspraak nie.

“Die doel van die wet is om mense te beskerm teen nadelige omstandighede waaraan hulle onderwerp is, maar wat buite hul vermoë is om te verander of te beheer. ’n Beroep (soos joernalistiek) kan nie ingereken word by die beskrywing van die wet nie,” het Molefe gesê.

Sanef se saak hou verband met die beweerde intimidasie van vyf joernaliste: Adriaan Basson, News24 se redakteur, Pauli van Wyk, ’n joernalis van Daily Maverick, Ranjeni Munusamy, mede-redakteur: ontleding van Tiso Blackstar, en Barry Bateman, senior joernalis van Eyewitness News.

Sanef het in sy aansoek gevra vir ’n interdik wat die EFF verbied om joernaliste regstreeks of onregstreeks te teister, en ook om Malema te beveel om nie verder haatdraende uitlatings te maak wat sy ondersteuners kan aanhits tot geweld teenoor joernaliste nie.

Sanef wou ook hê dat die hof die EFF moet beveel om die vyf joernaliste, wat as klaers in die saak gelys is, in die openbaar om verskoning te vra.

Malema het in ’n toespraak in November 2018 ná een van die sittings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ’n aantal joernaliste by die naam genoem en gekritiseer. Hy het onder meer aan sy ondersteuners gesê om “die vyand” op sosiale media uit te daag en “oor die kop te slaan”.

Sanef het aangevoer Malema se uitlatings het gelei tot verskeie aanlyn dreigemente teen die vyf joernaliste. Dit was daarop gemik om hulle só te intimideer dat hulle nie hul werk behoorlik kan doen nie.

Joernaliste soos Van Wyk, wat die EFF se bande met die VBS-skandaal ondersoek, is onder meer “Satan” genoem, terwyl ander vrouejoernaliste gedreig is met verkragting en selfs die dood.

Sanef sê hy sal die uitspraak bestudeer voordat hy verdere besluite neem oor die voortsetting van die regsproses.

“Ons neem kennis van Molefe se uitspraak waarin sy bevind dit is die plig van alle staatsinstellings, insluitend die regbank, om positiewe stappe te doen wat die veiligheid en onafhanklikheid van joernaliste beskerm.”

Sanef sê hy is steeds oortuig daarvan dat hy heeltemal by regte was om die hof te nader. “Ons moet ook benadruk dat ons die hof as laaste oorweging genader het nadat pogings om met die EFF te vergader, misluk het,” sê Sanef in ’n verklaring.

“Ons sal ons pogings voortsit om met die EFF te skakel asook alle ander politieke partye oor wedersyds aanvaarbare optrede. Sanef werk aan ’n memorandum van verstandhouding tussen die media en politieke partye vir meer hoflike interaksie en optrede.”

Sanef sê ook hy is nie gekant teen kritiek deur die EFF of enige lid van die publiek teenoor joernaliste of hul publikasies nie, maar “ons doen ’n beroep dat dit gedoen word op ’n manier wat nie neerkom op intimidasie van of doodsdreigemente teen joernaliste nie”.

Malema het kort ná die uitspraak getwiet: “Beslissend met hulle afgehandel, gee nou aandag aan hul hanteerder in die gelykheidshof in Johannesburg.”

Hy het verwys na die saak waarin Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, hom dagvaar vir crimen injuria en laster.

Meer oor:  Julius Malema  |  Sanef  |  Gelykheidshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.