Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Genadedood eindelik weer voor regters
Prof. Willem Landman

Die pynvlakke van adv. Robin Stransham-Ford, wat tot sy dood geveg het om genadedood toegelaat te kry, was matig toe hy gesterf het en sy familie het sy dood uitgestel om die hooggeregshof tyd te gee om oor sy aansoek te besluit.

Só word in hofstukke aangevoer wat die afgelope week by die appèlhof in Bloemfontein ingedien is aan die vooraand van die staat se appèlaansoek Vrydag.

Stransham-Ford is in April verlede jaar aan kanker dood, ure voordat regter Hans ­Fabricius in die hooggeregshof in Pretoria in sy guns beslis het dat “aktiewe, vrywillige genadedood” gewettig behoort te word.

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het onder meer destyds geargumenteer dat enige dokter wat iemand help sterf, strafregtelik aanspreeklik is.

Die staat het toe teen die uitspraak geappelleer.

Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA), ook ’n appellant, het die afgelope week nuwe getuienis oor Stransham-Ford se sorg en behandeling voor sy dood ingedien. Die RGBSA voer aan dat die doel van dokters is om lewe te bewaar en dat daar alternatiewe maniere is om pyn in so ’n mate te verlig dat dit nie nodig is om jou lewe te neem nie.

Die respondent voer aan dat mens en dier dieselfde beskerming onder die Grondwet moet geniet en as diere van kant gemaak mag word, dieselfde vir mense toegelaat moet word.

Prof. Willem Landman, ’n uitvoerende komiteelid van Dignity SA, wat hom vir genadedood beywer, beskou dié saak as van deurslaggewende belang vir regsontwikkeling. “Dit is verblydend dat die staat teen die uitspraak appelleer omdat daar uitsluitsel oor die reg gegee moet word,” sê Landman.

Hy sê daar is tans ’n botsing tussen die Grondwet en gemene reg. “Daar is baie groepe, soos mense ten gunste van aborsie en gay-huwelike, wie se regte ingevolge die Grondwet erken word. Maar mense ten gunste van genadedood se regte word nie erken nie,” sê hy.

“Daar is ook ’n aspek van menswaardigheid daarin. Die lewe waaraan ons en die Grondwet waarde heg, is lewe wat ’n sekere kwaliteit het. En as hy daai kwaliteit verloor, is die reg op lewe ook nie meer daar nie.”

Dr. John Gear, ’n internis en gewese professor in openbare gesondheidsorg aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê ons fokus is verkeerd.

“Die mediese beroep is so behep om lewe te verleng dat ons die gehalte daarvan miskyk,” sê hy.

“As iemand ’n volgehoue rede het hoekom hy nie meer kan aangaan nie, fisiek of geestelik, kan ek nie sien hoekom so ’n persoon nie geskik is vir genadedood nie.”

Meer oor:  Robin Stransham-Ford  |  Genadedood  |  Dignity Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.