
Adv. Gerrie NelFoto: Deaan Vivier
Adv. Gerrie Nel, die hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, gaan sy tande in nóg ’n private vervolging in “iemand in pres. Jacob Zuma se binnekring” inslaan.
Dit is die tweede keer in een maand dat die proses begin word om ’n “prominente persoon” aan te kla en te vervolg.
AfriForum het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle sal Donderdag aankondig wie die persoon is en op watter klagtes hulle hom/haar wil laat vervolg.
Dit beteken dat AfriForum regstappe begin deur eers vir ’n nolle prosequi-sertifikaat by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aansoek te gedoen.
Dit is ’n sertifikaat wat lui dat die vervolgingsgesag daarvan afstand doen om self die saak verder te voer.
As die aansoek slaag, sal die proses begin om die persoon privaat te vervolg.
Die eerste persoon in AfriForum en Nel se visier was Duduzane Zuma, die president se seun.
AfriForum het in Oktober aangekondig dat hulle die jonge Zuma privaat gaan vervolg weens die motorongeluk wat hy glo veroorsaak het toe hy op 1 Februarie 2015 op die M1-snelweg in Johannesburg in sy Porsche gery het.
Phumzile Dube (30) is in dié ongeluk op slag dood.
’n Formele geregterlike doodsondersoek wat na die ongeluk gedoen is, het bevind daar was prima facie-getuienis dat Dube se dood veroorsaak is deur Zuma se nalatige optrede.
Tog het die NVG op 18 Augustus 2015 besluit om hom nie te vervolg nie.
AfriForum het nou met regstappe begin om namens Dube se familie vir Zuma privaat op ’n klag van strafbare manslag te vervolg.
Vroeër is berig dat wanneer die NVG ’n nolle prosequi-sertifikaat uitreik, AfriForum kragtens die wet binne 90 dae met die private vervolgingsproses moet begin.
Die vervolging sal dan presies soos enige ander strafregtelike saak in die hof voortgaan, behalwe dat Nel, wat nie in diens van die NVG is nie, die aanklaer sal wees.
Die NVG het egter ook die opsie om sy besluit te hersien om nie te vervolg nie en dan wél self te vervolg.