Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gerrie Nel ‘sou Duduzane Zuma nie regverdig verhoor’

’n Onafhanklike getuie het Donderdag in die landdroshof in Randburg getuig hy was van mening dat Duduzane Zuma, ’n seun van oudpres. Jacob Zuma, nie regverdig vervolg sou word deur adv. Gerrie Nel nie.

“Ek was bang dat Gerrie Nel vir mnr. Zuma sou viktimiseer en daarom het ek besluit om na vore te kom en die feite te vertel soos ek dit gesien het,” het Michael Jankelowitz getuig.

Duduzane Zuma het Donderdag in die landdroshof in Randburg verskyn waar hy tereg staan op aanklagte van roekelose bestuur en strafbare manslag. Foto: Isabel Venter

Hy het Zuma se regspan gekontak toe hy hoor Nel en AfriForum wou hom privaat vervolg nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik besluit het om hom nié te vervolg nie.

Dié besluit is intussen omgekeer en Zuma staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur nadat hy op 1 Februarie 2014 op die M1-hoofweg in Johannesburg in ’n botsing met ’n taxi betrokke was.

Phumzile Dube (33), ’n passasier in die taxi, is in die ongeluk dood.

Jankelowitz het kort ná die ongeluk verby die toneel gery.

’n Paar dae later het hy op die radiostasie 702 gehoor hoe ’n omroeper “flambojant en oordrewe” berig oor ’n Porsche wat “reisies gejaag het”. Hy het ingebel “om die feite te stel”.

Later het hy via die media gehoor dat Nel van plan is om Zuma te vervolg. Dit is toe dat hy Zuma se regspan kontak met sy weergawe.

“Uit die berigte het ek afgelei dat Nel op die oorlogspad is . . . dat hy bloed sou soek en genadeloos sou wees in sy vervolging,” het Jankelowitz geantwoord op die vraag hoekom hy nie die polisie of die NVG genader het met sy inligting nie.

Phumzile Dube, passasier in die taxi wat in die ongeluk dood is, se familie was by bykans elke hofverskyning van Zuma teenwoordig. Hier hou hulle ’n foto van haar vas. Van links is Pedzisane Dube (broer), Edina Dube (ma), Albert Dube (broer) en Tambu Vundla (niggie). Foto: Isabel Venter

Volgens Jankelowitz was daar die aand van die ongeluk ’n reënstorm soos wat hy “nog nooit voorheen gesien of ooit weer ervaar het nie”.

As sportmotorfanatikus het hy die Porsche opgemerk. Hy kon selfs die registrasienommer uitmaak “omdat dit teen ’n redelike snelheid” gery het.

“Ek het self tussen 60 km/h en 65 km/h gery omdat dit swaar gereën het en ek net twee tot drie voertuie voor my kon sien. Ek het dat die remligte van die ander motors my lei,” het Jankelowitz getuig.

Hy het ’n ruk later gesien ’n voertuig – die Porsche wat hy vroeër opgemerk het – was in ’n ligte ongeluk.

Zuma het vroeër getuig hy het nie aanvanklik besef hy het met ’n ander voertuig gebots nie en het net vir lewe en dood aan sy stuurwiel geklou toe dit buite beheer getol het.

Phumzile Dube.

Zuma het getuig hy het beheer oor die Porsche verloor toe hy deur ’n plas water ry.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, het Zuma Donderdag kruisondervra oor hoe vinnig hy gery het ten tyde van die ongeluk. Zuma het gesê hy het net voor die ongeluk sy spoed verminder van 120 km/h tot tussen 90 km/h en 100 km/h omdat dit swaar begin reën het.

In sy eedsverklaring aan die polisie ná die ongeluk het Zuma gesê hy het teen ’n “normale spoed gery”. Vir sy versekeringsmaatskappy het Zuma gesê hy het teen 70 km/h gery.

“Ek is gevra om my gemiddelde spoed te gee, en dit is wat ek gedoen het,” het Zuma getuig toe Baba hom hieroor pols.

Zuma het volgehou dat hy in die heersende omstandighede teen die regte spoed gery het.

Konrad Lotter, ’n meganiese ingenieur en forensiese ondersoeker wat deur Zuma se regspan aangestel is, het getuig ’n ligte voertuig met breër wiele (soos die Porsche) kan maklik op ’n nat pad gly, al ry dit stadig.

Lotter het getuig volgens sy berekeninge en die bewyse wat hy ontleed het, het Zuma en die taxibestuurder tussen 79 km/h en 89 km/h per uur gery ten tyde van die ongeluk.

Zuma se regspan het hul saak gesluit ná Lotter en Jankelowitz se getuienis.

Die saak is tot later in Junie uitgestel sodat die staat en verdediging hul slotargumente kan voorberei.

Dube se familie het ná die hofverrigtinge aan Netwerk24 gesê hulle wens die verhoor wil tot ’n einde kom.

“Dit is al langer as vyf jaar. Ons is amper elke keer in die hof met die saak. Elke verskyning is vir ons ’n trauma,” het een van Dube se broers, Pedzisane Dube, gesê. Hy en sy ander broer, Albert, het hul ma, Edina, Donderdag by die hof ondersteun.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Gerrie Nel  |  Randburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.