Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gesiene Kaapse regters gooi nou éérs modder

Die Wes-Kaapse adjunkregterpresident is ’n leuenaar wat skinderstories oorvertel.

John Hlophe, regterpresident van die Wes-Kaap, op sy troudag met regter Gayaat Salie-Hlophe in 2012.

Só sê regter Gayaat Salie-Hlophe in ’n verklaring aan die kantoor van die hoofregter. Die verklaring, wat gister op sosiale media uitgelek het, is Salie-Hlophe se reaksie op klagte wat die adjunkregterpresident, Patricia Goliath, twee weke gelede by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien het.

Goliath beskuldig die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, van onder meer nepotisme, aanranding, wanbestuur en korrupsie. Maar Salie-Hlophe, wat met regter Hlophe getroud is, loop ook deur.

Goliath beweer in haar klagte Salie-Hlophe is “aktief betrokke in die bestuur van die regbank en dat sy haar eie werksure bepaal”. Sy sê Hlophe wou in 2015 ’n regter aanstel wat simpatiek teenoor oudpres. Jacob Zuma sou optree in die Earthlife Africa-saak oor die kernkragtransaksie.

Die ander klagte sluit in dat Hlophe ’n ander regter met die vuis geslaan het weens ’n kwessie waarby Salie-Hlophe betrek is; ’n insinuasie dat Hlophe sy vrou fisiek mishandel het in ’n onderonsie by die egpaar se woning; dat Hlophe sy vrou voorgetrek het deur die moordverhoor van die eiendomsmagnaat Jason Rohde aan haar toe te ken; dat Hlophe gekeer het dat Goliath haar pligte as sy adjunk kon uitvoer; en dat Hlophe na Goliath as ’n “klein k*k” verwys het in ’n vergadering met hul kollegas.

Goliath beweer die voorval het plaasgevind as gevolg van ’ ‘seksuele onbehoorlikheid’.

Oor die aanranding van ’n ander regter in die regter se binnekamers sê Goliath dat hierdie regter ’n verklaring opgestel het om vir Hlophe strafregtelik aan te kla. Goliath beweer die voorval het plaasgevind as gevolg van “seksuele onbehoorlikheid”.

Goliath is sedert 2016 die adjunkregterpresident in die Wes-Kaap en het in 2018 waargeneem as ’n regter in die konstitusionele hof. Met haar terugkeer as adjunkregterpresident in April 2019, beweer Goliath, het Hlo­phe al haar verantwoordelikhede óf self hanteer óf aan ander werknemers uitgedeel.

Sy sê in ’n vergadering met Hlophe in Oktober 2019 het hy haar beskuldig dat sy ingemeng het met sy persoonlike lewe. Dit was glo ná “ ’n persoonlike huishoudelike voorval by sy huis tussen hom, sy vrou en . . . ’n (ander) vrou”.

Volgens Goliath het Hlophe en Salie-Hlophe nie in daardie sta­dium saam gewoon nie. Sy sê Salie-Hlophe het haar daardie aand na haar huis ontbied. Toe sy daar kom, was Salie-Hlophe “ontsteld en in pyn”.

“Sy’t my gevra om haar hospitaal toe te neem en het in detail verduidelik wat by Hlophe se huis gebeur het. Haar hand was beseer.”

Salie-Hlophe beskryf in die verklaring, wat sy aan hoofregter Mogoeng Mogoeng se kantoor gestuur het, Goliath se bewerings as “tasbare leuens”. Sy sê dis “skinderstories wat ontwerp en georkestreer is om my ’n bespotting te maak”. Sy beweer Goliath se klagte is ’n poging om van haar man ontslae te raak sodat sy (Goliath) sy pos kan kry.

“Ek ken nie sake aan my kollegas toe nie, ek stel nie waarnemende aanstellings aan of dank hulle af nie, ek stel ook nie kandidate aan die regterpresident voor om waar te neem nie,” lui Salie-Hlophe se verklaring.

Sy sê dis “waansinnig” om te sê dat haar werksomstandighede anders as die ander regters s’n is. Sy het bygevoeg dat Goliath se “kwaadwillige verslae oor my private lewe soos ’n missiel geloods is om my leed aan te doen”. Oor die bewering dat sy voorgetrek is toe die Rohde-saak aan haar toegeken is, sê Salie-Hlophe dat Goliath “duidelik” ’n standpunt inneem oor ’n saak “afhangende van die ras en die klas van die betrokke partye”.

Hlophe se regsverteenwoordiger, adv. Barnabas Xulu, het by navraag Goliath se klagte as “niks meer as ’n geskinder” afgemaak nie. Sello Chiloane, woordvoerder vir die RDK, sê die geregtelike gedragskomitee ondersoek die klag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.