Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gesin pleit dat tannie se moordenaar nie parool kry

Carmen van Wyk (29) was 13 jaar oud toe haar tannie, Delicia van Wyk (49), op 17 Mei 2004 in hul huis in Vredestraat, Tuscany Glen, Blue Downs, deur bure se seun vermoor is.

Eugene Griqua (39) het by die huis ingebreek terwyl Delicia alleen by die huis was. Hy het haar meer as 30 keer met ’n skerp voorwerp gesteek, verwurg, waardevolle items uit die huis gesteel en toe die huis met Delicia daarin aan die brand gesteek.

Carmen was die laaste persoon wat haar geliefde tannie lewend gesien het. Carmen, haar ma, Sureka van Wyk, (64) en Delicia het saam in die huis gewoon.

Sureka was reeds weg werk toe.

Die voorval het Carmen en Sureka met net die klere aan hul lyf gelaat.

Griqua, wat tydens die voorval op parool was vir ander misdade, is in Junie 2006, 20 jaar tronkstraf vir Delicia se moord, vyf jaar vir huisbraak en vyf jaar vir brandstigting in die hooggeregshof in Kaapstad opgelê. Die vonnisse word samelopend uitgedien.

Nou, 14 jaar na sy vonnis lewe Carmen en haar ma weer in vrees nadat hulle toevallig deur die Tswelopele-tronk in Kimberley, Noord-Kaap, laat weet is dat Griqua aansoek gedoen het vir parool.

Volgens Carmen is die familie met Griqua se laaste paroolverhoor deur die paroolraad by die Warm Bokkeveld-gevangenis buite Ceres, gesê dat ’n volgende paroolverhoor vir Maart vanjaar vir Griqua geskeduleer sou word.

Toe sy oor ’n presiese datum vir die paroolverhoor navraag doen, moes hulle tot hul skok hoor dat Griqua vanaf die Warm Bokkeveld-gevangenis na ’n tronk in die Noord-Kaap geskuif is. Die bestuur van Warm Bokkeveld kon nie eens vir hulle sê na watter tronk hy in die Noord-Kaap geskuif is nie.

“Ek het letterlik elke tronk in die Noord-Kaap gebel tot ek by Tswelopele uitgekom en hulle bevestig het dat hy daar is.

Ons is bitter. Hy het ’n liefdevolle vrou wat vir haar familie geleef het, sonder enige berou vermoor
Carmen van Wyk

In Februarie het ons met die paroolraad daar gepraat en hulle het gesê daar is geen paroolverhoor vir hom geskeduleer nie. Dit ondanks ’n e-pos wat sê dat een vir 28 Maart vasgestel is.”

Toe vind die staat van inperking plaas en kondig die minister van justisie en korrektiewe dienste aan dat 19 000 gevangenes op vroeë parool vrygelaat gaan word om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

“Op 12 Mei kry my pa ewe skielik ’n oproep van ’n amptenaar uit die Noord-Kaap wat sê daar is ’n paroolverhoor op 20 Mei.”

Volgens Carmen is hulle ingelig dat hulle dit nie kan bywoon nie en dat Skype ook nie toegelaat sal word nie. “Sy het gesê hulle sal na die paroolverhoor vir ons laat weet wat die besluit was.”

Carmen het gesê dat hulle as familie geensins genader is om te sê hoe hulle oor Griqua voel nie.

“Ons is bitter. Hy het ’n liefdevolle vrou wat vir haar familie geleef het, sonder enige berou vermoor. Tot op hede het Griqua nie eens probeer om ons te nader om verskoning te vra nie. Ons glo ook nie dat hy gerehabiliteer is nie.”

Sy het gesê dat hy met sy laaste paroolverhoor ’n woede-uitbarsting gehad het toe hy parool geweier is.

Die familie was genoodsaak om die dienste van ’n prokureur te bekom nadat hulle geen antwoorde by die Tswelopele-paroolraad kon kry oor hoekom hulle en die breë Tuscany Glen-gemeenskap nie die geleentheid gegee is om hul insae as die familie van die slagoffer te gee nie.

Navrae is reeds Donderdag na Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder gestuur. Hy het Sondag gesê hy wag nog op DKD in die Noord- én Wes-Kaap om te reageer.

Meer oor:  Parool  |  Tannie  |  Moordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.