Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Geskiedkundige uitspraak: Timol is vermoor
Die bekende menseregte-advokaat George Bizos, met sy boek No one to Blame, Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria vir die uitspraak in die geregtelike ondersoek na Ahmed Timol se dood. Links van hom is dr. Salim Essop, wat saam met Timol by John Vorsterplein van 22 Oktober 1971 aangehou is. Foto: Jeanne-Marié Versluis

In ’n geskiedkundige oomblik vir Suid-Afrika se regstelsel het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag bevind lede van die destydse veiligheidspolisie het die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol vermoor deurdat hy by 'n venster uitgestamp is.

Die trajek waarteen Timol geval het, toon hy is gestamp van óf die dak van John Vorsterplein, die polisiehoofkantoor in Johannesburg, óf die venster van kamer 10-26 op die tiende verdieping van die gebou, sê regter Billy Mothle.

Timol het nie self gespring om sy eie lewe te beëindig nie, sê Mothle.

Kapteins Faan van Niekerk en Hans Gloy, wat Timol ondervra het toe hy gestamp is, het die opsetvorm van dolus eventualis gehad om moord te pleeg omdat hulle die risiko van Timol se dood moes voorsien het. Dít was nadat Timol sistematies en deurlopend gemartel is.

Van Niekerk en Gloy is reeds dood.

Jan Rodrigues (78) het die moord agterna verbloem en hy is ’n begunstiger van die misdaad. Hy moet deur die vervolgers ondersoek word. Hy het ’n vorige veroordeling van meineed, sê Mothle.

Mothle se uitspraak is met ’n applous in die hof begroet. Talle SAKP-lede het die uitspraak bygewoon en agterna in die hof gesing.

Mothle sê ’n paar lesse kan geleer word uit dié ondersoek. Die Grondwet se bepalings oor die respek vir menseregte moenie oortree word nie.

Mothle sê dit was die eerste geregtelike doodsondersoek in ’n hooggeregshof en waaroor ’n regter beslis het. Dít was die heropende geregtelike doodsondersoek ná Timol (29) se dood, nadat ’n senior landdros in die eerste ondersoek, in 1972, bevind het dit was selfdood en dat niemand vir sy dood verantwoordelik gehou kan word nie.

Timol se dood van 46 jaar gelede word op 27 Oktober herdenk.

Ahmed Timol Foto: Argief

Mothle se uitspraak is 129 bladsye lank, maar hy het ’n opsomming daarvan in die volgepakte hofsaal voorgelees.

Die menseregte-advokaat George Bizos, SC, is die enigste advokaat wat aan albei die geregtelike ondersoeke na Timol se dood deelgeneem het.

Salim Essop en Timol het op 22 Oktober 1971 saamgery toe hulle by ’n padversperring voorgekeer is. Die polisie het in die bagasiebak pamflette van die SAKP gekry en hulle gearresteer.

Die polisie het destyds gesê Timol het vyf dae later by die venster van kamer 10-26 uitgespring.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in 2016 besluit om die geregtelike doodsondersoek te heropen nadat Timol se familie die getuienis van hul eie private ondersoek aan die NVG voorgelê het. Die familie het gemeen dit was nie selfdood nie.

Mothle het beveel dat alle lede van die veiligheidspolisie, wat destyds by Timol en Essop se inhegtenisneming en aanhouding betrokke was, moes getuig.

Essop (nou 68), ’n vriend van Timol, het getuig hulle twee is afsonderlik gemartel. Hy het getuig Timol was nie iemand wat wou doodgaan nie. Hy was lief vir die lewe.

Essop Pahad, voormalige minister in die presidensie, het getuig Timol was ’n Moslem en ’n Moslem wat sy eie lewe neem, kan nie in die Moslem-begraafplaas begrawe word nie. Timol sou ook teruggaan na ’n wit vrou in Londen vir wie hy lief was en sy het vir hom gewag.

Prof. Steve Naidoo, forensiese patoloog, het getuig 27 van die 35 beserings kon nié weens Timol se val uit die venster veroorsaak gewees het nie. Naidoo het die berugte kantoor 10-26 besoek. Hy meen dat Timol nie sonder hulp by die venster sou kon uitspring of duik nie. Daar sou ook genoeg tyd wees vir iemand om hom te keer. Die venster is 96 cm van die vloer af, wat net bo Timol se middellyf sou wees. Hy was 1,6 m lank.

Dr. Shakeera Holland, forensiese patoloog, het getuig daar was verskeie beserings wat nié ooreengestem het met dié van ’n val van ’n hoogte af nie. Van die beserings was volgens histologiese toetse wat in 1971 as deel van die nadoodse ondersoek gedoen is, tussen vier en ses dae oud.

Rodrigues, 'n voormalige administratiewe beampte van die veiligheidspolisie wat die rang van sersant gehad, het getuig Timol het by die venster uitgeduik. Hy het alles in sy vermoë gedoen om Timol te gryp, maar dit was te laat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.