Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Geslote skole sal R22 mjd. kos, waarsku departement

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, sê in hofstukke dit sal sowat R22 miljard kos indien onderrig nie nou hervat word nie en leerlinge die skooljaar moet herhaal.

Mweli het gereageer op die aansoek van Mmusi Maimane en sy beweging, One South Africa (One SA), in die hooggeregshof in Pretoria dat die besluit van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, om skole te heropen as ongrondwetlik, ongeldig en irrasioneel verklaar moet word, asook dat die besluit tersyde gestel moet word. Motshekga staan die aansoek teen.

Die meeste gr. 12- en gr. 7-leerlinge het Maandag teruggekeer skool toe, terwyl skole in die Wes-Kaap ’n week vroeër geopen het.

Die konstitusionele hof in Johannesburg het verlede Vrydag geweier dat Maimane en One SA die regering se besluit om skole te heropen op ’n dringende grondslag mag betwis. Die hof het gesê die applikante het nie ’n sterk saak vir regstreekse toegang tot die hof nie.

maimane
Mmusi Maimane. Foto: Simon Sonnekus

Maimane het hierna die hooggeregshof genader. Hy voer in sy eedsverklaring aan dat die besluit om die skole te heropen miljoene kinders se reg op lewe, gesondheid, waardigheid en gelykheid skend.

Hy sê hoewel talle planne wel geformuleer is om die risiko’s te verminder wat met die heropening gepaardgaan, lyk dit slegs goed op papier en is dit onwaarskynlik dat dit op voetsoolvlak sal werk of behoorlik geïmplementeer sal word.

“Insgelyks sal die voorgestelde stuksgewyse heropening van skole, afhangende van gereedheid wat volgens boksies afgemerk word, onvermydelik daartoe lei dat meer gegoede skole heropen lank voordat skole in armer gemeenskappe of gevandaliseerde skole kan heropen,” lui sy verklaring.

Mweli sê in sy opponerende eedsverklaring dat die departement omvattende planne ingestel het en dat daar geen twyfel is dat die leerlinge moet terugkeer skool toe nie, omdat die meerderheid van die leerlinge nie toegang tot aanlyn onderrig het nie.

“As die applikante se benadering gevolg word, sal miljoene leerlinge van onderwys ontneem word en hul individuele, fundamentele reg op basiese onderwys sal geskend word terwyl ons wag vir die ideale situasie waarin skole in ’n posisie sal wees om gesamentlik te open.

“Die sluiting van skole het ook verskeie ander nadelige gevolge en implikasies gehad, nie net vir die leerlinge nie, maar ook vir die ouers en die breër gemeenskap. Dit het veroorsaak dat baie ouers nie na hul werkplekke kon terugkeer en ’n inkomste verdien wat hulle dringend benodig nie,” lui Mweli se verklaring.

Mathanzima Mweli. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Hy sê om skole gesluit te hou, sal die ongelykhede tussen gegoede en arm leerlinge verdiep, omdat gegoede leerlinge toegang tot aanlyn onderrig het en data daarvoor kan bekostig. Boonop ontvang 80% van die leerlinge maaltye by die skool.

Hy voer verder aan dat daar ’n sterk argument uitgemaak kan word dat kinders juis weens Covid-19 by die skool moet wees.

“ ’n Skool wat voorberei, ontsmet en vir Covid-19-omstandighede gereed gemaak is, voorsien in baie gevalle ’n relatiewe veiliger omgewing – veral waar kinders van meestal voorheen benadeelde gemeenskappe moontlik weens hul betreurenswaardige en oorvol lewensomstandighede dit sonder inagneming van die huidige beperkings dikwels daagliks in die gemeenskap waag.”

Hy sê verder blyk dit duidelik uit beskikbare data dat kinders nie net selde simptome van Covid-19 toon nie, maar ook selde die virus opdoen of oordra.

Volgens die departement gaan sowat 1,1 miljoen matriekleerlinge einde vanjaar die matriekeksamen aflê.

Mweli meen dat dit druk op die onderwysstelsel en -infrastruktuur gaan plaas as skole nie hervat kan word nie en die leerlinge die jaar moet herhaal, omdat nuwe leerlinge die stelsel gaan betree sonder dat enige ander leerlinge die stelsel verlaat het.

Volgens hom sal dit R22 miljard kos net om klaskamers vir die bykomende leerlinge te bou.

“Dan het ons nog nie eens die meubels, personeel en operasionele befondsing in ag geneem nie.”

Volgens hom het die departement nie geld hiervoor nie en indien onderwys nie vanjaar voortgaan nie, kan dit die reg op onderwys vir die volgende paar jaar in gevaar stel.

Mweli sê verder Maimane en One SA het tot op die nippertjie gewag om hul aansoek in te dien, aangesien Motshekga die plan om skole in Junie te heropen reeds op 30 April bekend gemaak het. Hy sê die provinsiale LUR’e vir onderwys moes ook as respondente by die aansoek gevoeg word omdat hulle ’n regstreekse en aansienlike belang by die saak het.

Volgens hom is dit nie lewensvatbaar, prakties of wetlik toelaatbaar om alle skole gesluit te hou totdat al die applikante met elke skool se gereedheid tevrede is nie. Hy vra ook dat ’n kostebevel teen Maimane en One SA gemaak word.

Verskeie soortgelyke sake teen Motshekga en die onderwysdepartement het al misluk, waaronder ’n aansoek deur die Educators Union of South Africa (Eusa) om skole weer te sluit, wat vroeër die week deur die hooggeregshof in Pretoria met koste van die hand gewys is.

Maimane en One SA het die hof gevra om die aansoek Woensdag aan te hoor.

Meer oor:  Mathanzima Mweli  |  Waarsku  |  Onderwys  |  Skole  |  Gesluit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.