Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Getuie vertel hoe DA-kandidaat vermoor is

Die hooggeregshof in Kimberley het Woensdag vir die eerste keer gehoor wat presies die aand van 17 Augustus 2016 in Postmasburg in die Noord-Kaap gebeur het toe Johannes Baaitjie, DA-kandidaat, en sy vennoot vermoor is.

Baaitjie se weduwee, Dora, het in die hof voor haar uitgestaar terwyl Tiro Legothlo, ’n artikel 204-staatsgetuie, verduidelik het wat gebeur het.

Van links is Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Zonizelo Richard Magawu, ANC-kandidaat en takvoorsitter, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu in die hof met ’n vorige verskyning. Foto: Charné Kemp

Dié voorval het opspraak verwek omdat ’n voormalige hooggeplaaste ANC-lid een van die vyf beskuldigdes is.

Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter, Richard Ha­sane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu word van die moorde, asook ontvoering en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, aangekla.

Baaitjie se lyk is met ’n skietwond in sy kop langs die pad naby Postmasburg gekry. Sy gewonde vennoot, Shuping Nouse, is dae later op 23 Augustus aan sy beserings dood.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, maar dat Baaitjie eers uit die weg geruim moes word.

Baaitjie is glo met die belofte van ’n plaveiselkontrak na Postmasburg gelok.

Legothlo, wat in Kuruman bly, is voor die voorval deur Mphondomisa gekontak en glo R20 000 beloof om “sekere mense” van Daniëlskuil na Postmasburg te vervoer.

Die persone het glo “’n deal” met ’n DA-man gehad. Omdat die ANC die plaaslike verkiesing in Daniëlskuil verloor het, sou sekere mense hul werk verloor, en die DA-man moes verwyder word, het Legothlo getuig.

Legothlo en Ha­sane is op die betrokke dag met Hasane of sy vrou se Jetta na Daniëlskuil waar hulle Baxane, Mphondomisa en Magawu ontmoet het.

Legothlo, wie se gewete hom gepla het, was toevallig besig om met ene mnr. Schoeman by die hof in Kimberley oor die voorval te praat toe kol. Dolf Lourens, ondersoekbeampte, hom gebel het, waarna Legotlho ingestem het om ’n staatsgetuie te word.

Magawu het gesê hy gaan nie saam nie, want die “top dogs” het gesê hy sal die eerste verdagte wees. Legothlo het gesien Baxane en Mphondomisa het ’n 9­ mm-pistool by hulle.

Legothlo was bang en het al die opdragte uitgevoer. By die skool het Legothlo en Ha­sane vir Baaitjie en Nouse tegemoet gegaan.

Mphondomisa het van agter gekom en Nouse geskiet. Legothlo en Ha­sane het na die voertuig gehardloop en gesien hoe die ander twee vir Baaitjie aankeer en hom in die bagasiebak boender.

Die vier mans het vinnig in die rigting van Daniëlskuil gery.

Volgens Mphondomisa en Baxane het die pistool geweier en kon hulle nie vir Baaitjie ook skiet nie, het Legothlo getuig.

Hy het gehoor hoe Baaitjie skreeu en teen die agtersitplek skop. Mphondomisa het die agtersitplek teruggevou en in die bagasiebak ingeleun. Nog skote is afgevuur.

Die bagasiebak het oopgespring en Baaitjie het uitgeval, waarna hulle stilgehou het. Mphondomisa en Baxane het Baaitjie van die padoppervlak gesleep, terwyl Legothlo en Ha­sane via Postmasburg en Kathu na Kuruman gejaag het.

Daar het hulle ’n selfoon, ’n koeël, ’n patroondoppie en die holster uit die bagasiebak gehaal en die bloed probeer afwas.

Legothlo het later die holster en die selfoon verbrand, terwyl Hasane die ammunisie in die toilet afgespoel het.

Legothlo, wie se gewete hom gepla het, was toevallig besig om met ene mnr. Schoeman by die hof in Kimberley oor die voorval te praat toe kol. Dolf Lourens, ondersoekbeampte, hom gebel het, waarna Legotlho ingestem het om ’n staatsgetuie te word.

Die verhoor voor regterpresident Pule Tlaletsi duur voort.

Meer oor:  Tiro Legothlo  |  Johannes Baaitjie  |  Postmasburg  |  Noord-Kaap  |  Da-Kandidaat  |  Hof  |  Moordverhoor  |  Getuienis  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.