Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gewese paartjie baklei in hof oor geknipte ore
Die foto’s wat Ralph van der Merwe glo op 3 Januarie 2018 aan Barry Wolmarans gestuur het as voorbeeld van ’n hond wie se ore geknip is. Dit is op ’n projektor in die hof gewys.Foto: Hanti Otto

Toe Barry Wolmarans op 4 Januarie verlede jaar sy klein Napolitaanse mastiff-hondjie by Linda Janse van Rensburg net buite Pretoria gekoop en gaan haal het, was die hondjie se ore nié geknip nie.

Hy het haar gevra wie dit kan doen, en sy het hom na haar gewese verloofde, Ralph van der Merwe, verwys, het Wolmarans Woensdag in die landdroshof in Pretoria-Noord getuig.

Van der Merwe, het Wolmarans bygevoeg, het toe die hondjie na ’n veearts geneem en ná die tyd foto’s gestuur.

Janse van Rensburg, ’n teler van Napolitaanse mastiff-honde, ontken skuld op ’n aanklag van dieremishandeling.

Die strafsaak volg nadat Van der Merwe destyds klagte deur sy prokureur by die DBV ingedien en aangevoer het dat Janse van Rensburg die hondjies se ore (te diep) geknip en een se stert afgesny het.

Foto’s van die twee hondjies, met steke in hul geknipte ore, is by die hof ingedien.

Van der Merwe het ter stawing hiervan foto’s van twee hondjies, met steke in hul geknipte ore, by die hof ingedien.

Hy het vroeër getuig dat hy in Januarie 2018 twee hondjies in die beskuldigde se Audi gesien het. Hul ore en een se stert was gesny. Hy het foto’s geneem en haar daaroor gekonfronteer.

Janse van Rensburg het gesê sy knip nie die hondjies wat sy verkoop se ore of sterte nie, en Van der Merwe se klag is deel van ’n “persoonlike vendetta” teen haar nadat hul verlowing verbreek is.

Haar prokureur, Anton van Staden, het in kruisondervraging aan Van der Merwe gesê sy verhouding met die beskuldigde is in 2017 beëindig, maar dat hulle mekaar nog soms besoek en gesien het.

Janse van Rensburg het hom egter op 1 Januarie 2018 van haar perseel af “weggejaag”.

“Jy het gesê jy sal haar ruïneer, onder meer finansieel,” het Van Staden dit Woensdag aan die klaer gestel. Van der Merwe het dit ontken.

Linda Janse van Rensburg (die beskuldigde) en Ralph van der Merwe ( die klaer) toe hulle nog ‘n paartjie was. Foto: Facebook

Die prokureur het ook aangevoer dat die foto’s wat Van der Merwe as bewysstukke teen Janse van Rensburg ingehandig het, eintlik in sy (die klaer) voertuig geneem is, en nié in die beskuldigde s’n nie, aangesien sekere kenmerke van die klaer se voertuig op die foto’s van die honde sigbaar is.

Van der Merwe het dit ook ontken.

Die prokureur het toe gevra of Van der Merwe ene Barry Wolmarans ken. Van der Merwe het geantwoord: “Ek het hom nog nooit ontmoet nie”.

Hierop het die prokureur gesê: “Barry Wolmarans is buite die hof. Met sy foon”.

Wolmarans is ingeroep, maar Van der Merwe het by sy weergawe gehou.

Die verdediging het van Wolmarans se WhatsApp-boodskappe in die hof gewys. Daar is talle boodskappe van Van der Merwe aan hom, insluitende foto’s van Napolitaanse mastiff-hondjies met steke in hul ore.

“Dit is die foto’s wat u hof toe gebring het en ék uitgewys het as dié wat in jou kar geneem is. Dit is dieselfde foto’s wat jy by die hof ingedien het,” het die prokureur aangevoer.

Van dié foto’s is, volgens Wolmarans se WhatsApps, op 3 en 5 Januarie 2018 aan hom gestuur.

Van der Merwe het driftig geantwoord dat dit nie hy kon wees nie, want hy was daardie tyd “in ’n koma in die hospitaal”.

Volgens hom het Janse van Rensburg in daardie stadium sy foon gehad, wat hy met ’n hofbevel probeer terugkry het.

Die prokureur het toe ’n ander verklaring van Van der Merwe uitgehaal waarin hy geskryf het dat hy op 8 Januarie 2018 gehospitaliseer is en gesê en gesê het: “Jy weet jy is uitgevang”. Janse van Rensburg het geantwoord: “Ag, please!”.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Hond  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.