Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Gifmoord’: Klag teen Ace by polisie ingedien

’n Strafregtelike klag teen Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC, is Dinsdag by die polisie in Parys ingedien omdat hy versuim het om die beweerde moord op Sandile Msibi, voormalige hoof van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, aan te meld.

Volgens dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, is die klag ingevolge afdeling 2 van die Wet op Nadoodse Ondersoeke (nr. 58 van 1959) aanhangig gemaak.

Jankielsohn sê Magashule het vroeër vanjaar beweer Msibi is weens vergifting dood. “As ’n mens versuim om ’n verdagte dood aan te meld, is dit ’n strafregtelike oortreding.”

Magashule het die vergiftingsbewering in Januarie op Msibi se begrafnis gemaak en gesê hy het voor Msibi se dood ondersteuning van oudpres. Jacob Zuma probeer kry om Msibi vir behandeling Rusland toe te stuur.

“Die DA het hierna ’n geskrewe vraag aan die premier gerig oor of ’n lykskouing gehou is om die oorsaak van die dood vas te stel en of Magashule die saak by die polisie aangemeld het sodat dit verder ondersoek kon word.”

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Felix Dlangamandla

Jankielsohn sê Magashule se antwoord was dat die kommentaar op ’n privaat geleentheid gelewer is en as sodanig nie onderworpe is aan toesig van die Vrystaatse wetgewer nie.

“Ons het op skrif amptelik by die speaker van die wetgewer, Mamiki Qabathe, beswaar gemaak teen die antwoord. Ons het tot dusver nog geen antwoord gekry nie.”

Jankielsohn sê in antwoord op ’n geskrewe vraag wat die DA aan die minister van polisie gestuur het, blyk dit dat die vermoedelike moord nie by die polisie aangemeld is nie. “Ná oorweging van die erns van die saak het die polisie besluit om ’n dossier te open.”

Jankielsohn sê as bevind word dat Msibi inderdaad die slagoffer van vergifting was, is Magashule skuldig aan regsverydeling omdat hy nie ’n klag met getuienis ter stawing by die polisie ingedien het nie.

“As dit nie die geval blyk te wees nie, het Magashule die begrafnis as ’n platform vir politieke gewin misbruik. Albei gevalle dui op Magashule se gebrek aan integriteit.”

Jankielsohn sê die voormalige premier se bewerings dra by tot ’n omgewing van vrees en wantroue in die regering waar die werknemers steeds getraumatiseerd is oor die Vrede-suiwelprojek en Moses Tshake se dood.

Tshake was ’n voormalige werknemer van die Vrystaatse departement van landbou se finansiële afdeling wat ontvoer, gemartel en vermoor is, na bewering oor die navrae wat hy oor die Gupta-gedrewe Vrede-projek gehad het.

* Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het nie op Netwerk24 se telefoonoproepe vir kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.