Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gigaba dagvaar Redi oor ‘vete met eksvrou’-aantygings

’n Bekgeveg op Twitter tussen Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, en Redi Tlhabi, voormalige radio-omroeper, kan in die hof draai.

Tlhabi het hom daarvan beskuldig dat hy die visumvereistes vir minderjarige kinders gewysig het na aanleiding van ’n vete met sy eksvrou oor reisreëlings vir hul kind.

Die omstrede regulasie dat reisigers ’n onverkorte geboortesertifikaat vir minderjariges moet hê, het baie reisigers onkant gevang en volgens toerismeorganisasies in die afgelope jare sedert dit van krag is, ’n baie negatiewe uitwerking op die toerismebedryf gehad. Gigaba het pa gestaan vir die regulasies.

Hy het Tlhabi tot 17:00 Donderdag gegee om haar beweringe terug te trek. Nadat sy geweier het, het Gigaba in ’n amptelike verklaring op sy departement se briefhoof aangekondig dat hy sy prokureur opdrag gegee het om haar vir laster te dagvaar.

Malusi Gigaba.

Thabo Mokgola, Gigaba se woordvoerder, het Vrydagoggend gesê die departement het Gigaba se verklaring uitgereik “hoofsaaklik vir sirkulasie”.

“Die minister doen die stap in sy persoonlike hoedanigheid en sal persoonlik vir die regskoste verantwoordelik wees.”

Die geveg tussen die twee het Dinsdag losgebars toe Tlhabi gesê het Gigaba was woedend nadat ’n niggie van sy eksvrou sy kind sonder sy toestemming landuit geneem het.

In ’n stroom twiets het sy onder meer gesê Gigaba het ongetoetste regulasies afgekondig en aangevoer dat dit kinderhandel sal vasvat.

“Het jou regulasies kinderhandel afgebring?”

Gigaba het Woensdag in ’n twiet aan Tlhabi gevra of sy bewus is daarvan dat die vereiste vir ouers om toestemming te gee vir die vertrek van hul kinders uit Suid-Afrika, in die Kinderwet van 2005 vervat is.

“En het jy geweet dat die regulasies wat dié vereiste in werking laat tree het, goedgekeur is terwyl ek steeds by die departement van openbare ondernemings was?”

Gigaba het Donderdagaand ’n afskrif van die Wysigingswet op Immigrasie waarin die regulasies in 2014 goedgekeur is, getwiet. Dit is deur Naledi Pandor, voormalige minister van binnelandse sake, onderteken.

Hy het getwiet Tlhabi het sy dogter “veragtelik” by die kwessie betrek en ’n ultimatum gestel dat sy haar “kwaadwillige leuens” terugtrek en om verskoning vra.

Hy waarsku haar om solank geld in te samel vir ’n skadevergoedingseis.

Tlhabi kon nie Vrydag dadelik vir kommentaar opgespoor word nie.

Meer oor:  Redi Tlhabi  |  Malusi Gigaba  |  Dagvaarding  |  Bekgeveg  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.