Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ginekoloog van Witbank se appèl teen vonnis verwerp

’n Streeklanddros van eMalahleni (Witbank) was korrek in haar bevinding dat ’n vrou weens ’n ginekoloog se nalatigheid gesterf het.

Daarbenewens is die tronkstraf wat dr. Danie van der Walt in die streekhof opgelê is, inderdaad gepas, het regter JP Legodi onlangs in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg, Mpumalanga, bevind.

Van der Walt het geappelleer nadat streeklanddros Merlene Greyvenstein hom verlede jaar op ’n aanklag van strafbare manslag skuldig bevind en gevonnis het.

Hy is gevonnis tot vyf jaar tronkstraf onder artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet. Dit beteken dat hy minstens ’n sesde van die vonnis moet uitdien voordat die res van die vonnis onder korrektiewe toesig (buite die tronk) voltooi kan word.

Van der Walt is daarna vrygelaat op borgtog, hangende sy appèl in die hooggeregshof.

Strafregtelike aanspreeklikheid ontstaan net as ’n dokter iets doen wat die lewe en veiligheid van ’n pasiënt verontagsaam.
Regter JP Legodi

Nadat die hooggeregshof bevind het dat die streeklanddros nié met haar bevinding of vonnisoplegging gefouteer het nie, moet Van der Walt tronk toe.

Dit kom nadat Pamela Noni Daweti (22) op 11 Augustus 2005 sy pasiënt in ’n private hospitaal in eMalahleni was toe sy natuurlik gekraam het. Sy het in die kraamproses ’n skeur tot by haar anus opgedoen en het haar enkele ure later doodgebloei.

Luidens die uitspraak in die hooggeregshof was Van der Walt, soos Greyvenstein ook bevind het, onder meer nalatig deur nie die nodige nasorg te doen nie, hom nie dadelik na sy pasiënt gehaas het toe die hospitaal hom ingelig het dat sy kritiek is nie en eerder telefonies opdragte gegee het, en haar later eerder in die waaksaal laat opneem het, pleks daarvan dat sy na teater vir behandeling geneem is.

“Strafregtelike aanspreeklikheid ontstaan net as ’n dokter iets doen wat die lewe en veiligheid van ’n pasiënt verontagsaam. Die vraag hier is of die streekhof reg bevind het dat dr. Danie van der Walt strafregtelik vir die dood (van Daweti) aanspreeklik was,” het Legodi gesê.

Hy het verwys na getuienis dat die oorledene daardie aand, omstreeks 23:30, kort ná die geboorte van haar dogtertjie begin bloei het.

Die skeur, wat van voor tot agter gestrek het, is toegewerk, maar die bloeding het nie gestop nie.

’n Patoloog het later getuig daar was ongeveer 7 mm in die skeur wat nié toegewerk is nie.

Die appellant (Van der Walt) is weg nadat hy die jong ma toegewerk het. Om middernag en weer ’n uur later het die verpleegpersoneel die ginekoloog gebel omdat die pasiënt onophoudelik gebloei het.

“Pleks daarvan om persoonlik aandag aan die pasiënt te gee, het die appellant telefonies instruksies aan die verpleegpersoneel gegee,” sê Legodi in sy uitspraak.

Die bloeiende ma is medikasie, ’n drup en nog later bloed toegedien.

“Dit was eers tussen 01:30 en 02:00 dat die appellant hospitaal toe gegaan het. Sou ’n omsigtige dokter so lank gewag het nadat hy om 00:00 gekontak is?” het die regter gevra.

Van der Walt het toe opdrag gegee dat Daweti na die waaksaal oorgeplaas word. Sy is om 03:30 daar opgeneem – in die afwesigheid van die ginekoloog.

’n Uur later het ’n suster Van der Walt gebel en gesê Daweti bloei steeds.

’n Rukkie later moes ’n ander dokter resussitasie op Daweti toepas. Van der Walt is weer gebel.

’n Bloeiende pasiënt ná kraam is ’n hoë risiko. Dit is redelik om van die appellant te verwag om – met sy kundigheid – dit te weet en versigtiger en meer waaksaam te wees.
Regter JP Legodi

Hy het om 05:30 by die hospitaal opgedaag.

Die jong ma het om 06:03 weens swaar bloedverlies gesterf.

Legodi het verwys na die patoloog se getuienis dat ’n dokter nie net alles aan die verpleegpersoneel kan oorlaat nie.

Volgens die patoloog moes skeure, soos dié van Daweti, in ’n teater onder narkose in sterk beligting geheg word, aangesien dit ’n “redelike moeilike prosedure is” en in swak lig is dit waarskynlik dat die kern van ’n skeur gemis kan word.

Daarby is dit aanvaarde mediese praktyk om, wanneer ’n instrument in die kraamproses, soos ’n verlossingstang in Daweti se geval, gebruik word, seker te maak dat daar geen trauma of skeure is nie en dat die bloeding gestop het.

“ ’n Bloeiende pasiënt ná kraam is ’n hoë risiko. Dit is redelik om van die appellant te verwag om – met sy kundigheid – dit te weet en versigtiger en meer waaksaam te wees,” het Legodi bevind.

Hy het Van der Walt se appèlaansoek van die hand gewys.

Meer oor:  Witbank  |  Strafbare Manslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.