Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Glasbeker-aanval: Hof weier ANC-raadslid se aansoek

Andile Lungisa, ’n ANC-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, beplan om die appèlhof in Bloemfontein te nader nadat sy appèl teen sy skuldbevinding en twee jaar tronkstraf in die hooggeregshof misluk het.

Landdros Mornay Cannon het Lungisa in April in die landdroshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Dit was nadat hy in Oktober 2016 op ’n chaotiese raadsvergadering ’n glasbeker met water op die kop van Rano Kayser, DA-raadslid, gebreek het.

Cannon het Lungisa tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan een jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Lungisa het op 13 Maart in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) teen die vonnis en skuldbevinding geappelleer.

Regter Judith Roberson het die aansoek Dinsdag van die hand gewys.

Roberson het in haar uitspraak toegegee dat die vonnis “straf” is en dat sy moontlik ’n ligter vonnis sou opgelê het.

“Maar die verskil tussen wat ek sou oplê en die eintlike vonnis wat opgelê is, is nie só aansienlik dat dit gronde vir ingryping is nie.”

Andile Lungisa, ANC-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Lulama Zenzile

Lungisa, die metro se burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, het Dinsdag gesê hy is teleurgesteld in die uitspraak.

“Ek meen die uitspraak moes in my guns gewees het.

“Maar dit lyk of ons nie meer op regters of die regstelsel kan staatmaak nie – alles gaan nou oor politici, alles word verpolitiseer,” het hy gesê.

In haar uitspraak het Roberson wel van Lungisa se rol as raadslid melding gemaak. Hoewel hy in die verhoor gevra het dat hy as ’n gewone burger verhoor word, het Roberson bevind dat Cannon korrek opgetree het deur Lungisa se amp in ag te neem, aangesien die voorval op ’n raadsvergadering gebeur het.

“Die gemeenskap is daarop geregtig om ’n sekere standaard van gedrag van hom (Lungisa) te verwag. Na my mening was die landdros nie verkeerd om die gemeenskap se belange, asook die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die applikant in ag te neem nie.”

Sy het ook bevind dat Cannon reg was deur die staatsgetuies in die saak as geloofwaardig te aanvaar, ten spyte daarvan dat hul getuienis plek-plek verskil het oor presies wanneer Lungisa die glasbeker opgetel het.

Soos Cannon het Roberson Lungisa se weergawe verwerp.

Lungisa se verweer was dat deur Kayser bedreig gevoel het en bang was. Lungisa beweer ook dat hy van plan was om slegs die water oor Kayser uit te gooi.

Roberson sê Lungisa was ontwykend in sy getuienis en het sy weergawe deur die loop van die verhoor aangepas.

“Die manier waarop die applikant (Lungisa) Kayser oor die kop geslaan het – soos in die video gesien word – strook nie met ’n poging om water oor hom te gooi nie.”

Roberson het ook saamgestem met Cannon se siening dat dit ’n ernstige aanranding was.

“Kayser is só hard geslaan dat die beker gebreek het. Hy is met geweld op ’n belangrike én kwesbare deel van sy liggaam geslaan, en byna twee jaar later ly hy steeds aan die nagevolge (onder meer kopsere).”

Mlindi Nhanha, Oos-Kaapse DA-woordvoerder, het Dinsdag die uitspraak verwelkom. “Hoewel die DA sy reg respekteer om hom tot die appèlhof te wend, moet ons daarop wys dat raadslid Lungisa ’n bedreiging vir die mense van die Nelson Mandelabaai-metro is en gestuit moet word.”

Lungisa, wat op borgtog is hangende sy appèlaansoek, het gesê hy sal die uitspraak bestudeer en binnekort by die appèlhof aanklop.

Meer oor:  Rano Kayser  |  Andile Lungisa  |  Port Elizabeth  |  Hof  |  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Da-Raadslid  |  Appèlhof  |  Misdaad  |  Anc-Raadslid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.