Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lungisa word glo Dinsdag vrygelaat

Die ANC se Andile Lungisa sal volgens sy ondersteuners Dinsdag, ná net meer as twee maande se tronkstraf, uit die tronk vrygelaat word.

Terwyl volgelinge van die Release Andile Lungisa-veldtog gereed maak om hom terug te verwelkom, het die departement van korrektiewe dienste (DKD) nie Lungisa se vrylating bevestig nie.

Lungisa, ’n voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga en raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, het op 17 September by die Noordeinde-gevangenis in Port Elizabeth aangemeld waar hy sy effektiewe twee jaar tronkstraf uitdien.

Dié vonnis is reeds in 2018 opgelê nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer omdat hy ’n glasbeker oor Rayno Kayser, ’n DA-raadslid, se kop gebreek het tydens ’n raadsvergadering in Oktober 2016.

Lungisa was sedertdien op borgtog vrygelaat hangende sy appèl teen sy vonnis. Die appèlhof in Bloemfontein het vroeg in September dié appèl van die hand gewys, waarna sy borgtog verstryk en hy by die tronk aangemeld het.

Andile Lungisa toe hy in September saam met ’n groot klomp ondersteuners by die Noord-Einde-gevangenis in Port Elizabeth aanmeld om sy vonnis uit te dien. Foto: Lulama Zenzile

Hoewel Lungisa se regspan hierna weer ’n suksesvolle borgtogaansoek vir hom behartig het hangende die uitkoms van die konstitusionele hof se besluit oor sy aansoek om verlof tot appèl, het Lungisa besluit om agter tralies te bly.

Die Release Andile Lungisa-veldtog het intussen Saterdag ’n verklaring uitgereik waarin hulle aanvoer Lungisa sal op 1 Desember deur die “massas van ons land” terugverwelkom word.

“As deel van die korrektiewe dienste-program se kwytskelding aan alle gevangenes van ’n sekere kategorie van misdaad, sal kameraad Andile Lungisa vrygelaat word saam met nog 400 gevangenes wat die korrektiewe proses buite die gevangenis sal ondergaan.

“Verskeie programme is ingestel vir die leier buite die gevangenis,” lui die veldtog se verklaring.

Op die vraag of Lungisa wel vandeesweek vrygelaat word, het Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder van die DKD, gesê hulle distansieer hulself van die verklaring wat die ronde doen.

“Die gevangene is binne ons sentrum en sal vir plasing oorweeg word nadat hy die minimum benodigde tyd uitgedien het, net soos enige ander gevangene,” het Nxumalo aan Netwerk24 gesê.

Ayanda Kasa, voormalige provinsiale sekretaris van die ANC-jeugliga in Gauteng en een van die dryfkragte agter die Lungisa-veldtog, het in reaksie gesê wat hul betref sal Lungisa op 1 Desember op parool vrygelaat word.

“Die kwessie van Andile se vrylating is ’n saak tussen die departement en Andile. Wat ons betref, ons weet ons kameraad het die nodige dokumente onderteken om op die vasgestelde datum vrygelaat te word.”

Meer oor:  Nelson Mandelabaai  |  Hof  |  Tronkstraf  |  Misdaad  |  Korrektiewe Dienste  |  Andile Lungisa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.