Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
G’n uitkoms meer – Zuma moet nou sy regskoste betaal

Daar is nie meer baie skuiwergate vir oudpres. Jacob Zuma om sy regskoste van “meer as R18 miljoen” te ontduik nie.

Regskenners meen sy enigste opsie is om te betaal, of ’n beslagleggingsbevel kan teen hom uitgereik word om sy bates op ’n veiling te verkoop.

’n Finale uitweg sou wees dat Zuma bankrotskap aanvoer en gesekwestreer word.

Met Zuma wat nou alle regsprosesse uitgeput het in ’n poging om nie self vir sy regskoste oor die jare heen te betaal nie, het die staatsprokureur volgens die Jacob G. Zuma-stigting “’n verklaring” op sy regspan beteken.

Mzwanele Manyi, woordvoerder van die stigting, het Vrydag gesê die oudpresident se regsverteenwoordigers het “onlangs” ’n “verklaring” van die staatsprokureur rakende die regskoste van sy verskeie hofsake ontvang.

“Soos ek verstaan, beloop dit meer as R18 miljoen.

“Ek het nie die verklaring nie. Dit is by sy regspan, maar sodra hulle met hom gekonsulteer en instruksies gekry het, sal ons die pad vorentoe bekend maak,” het Manyi bygevoeg.

Soos ek verstaan, beloop dit meer as R18 miljoen.
Mzwanele Manyi

Dié stap kom nadat die appèlhof in Bloemfontein in April gelas het dat Zuma wel ’n groot deel moet terugbetaal van die gelde wat die staatsprokureur, en dus die belastingbetaler, aan sy persoonlike hofstryde teen korrupsieverwante aanklagte uitgegee het.

Die hof het Zuma se appèl teen ’n vroeëre beslissing van die hooggeregshof in Pretoria met koste van die hand gewys.

Zuma wou daarmee die besluit van die hooggeregshof dat die regering nie sy persoonlike regskoste in die sogenaamde wapenskandaal-saak hoef te betaal nie, en dat hy alle gelde moet terugbetaal, laat omkeer.

Die hooggeregshof in Pretoria het reeds in Desember 2018 bevind dat die regering nie vir Zuma se regskoste moes betaal het nie.

Dié beslissing het gekom nadat die DA en die EFF onderskeidelik hersieningsaansoeke by die hof ingedien het om die staatsprokureur se destydse besluit om Zuma se regskoste te betaal, te betwis.

Hulle het aangevoer Zuma is in sy persoonlike hoedanigheid aangekla en daarom kan die staat (en dus die belastingbetaler) nie sy koste dra nie.

Die hooggeregshof het saamgestem en gelas dat die staatsprokureur ’n inventaris moet saamstel van al die uitgawes aan Zuma se regskoste en dit by die hof indien.

Hy moet ook ’n plan vir die verhaling van die geld opstel.

Zuma het hom ná die appèlhofbeslissing tot die Grondwet gewend, maar daar ook bloedneus gekry.

Regskenners vermoed die “verklaring”, wat nou deur die staatsprokureur beteken is, sluit hierdie inventaris en verhalingsplan in.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, sê die stappe om nou die geld te verhaal, sal volgens die siviele reg wees.

As die geld nie binne daardie tyd betaal word nie, sal ’n lasbrief vir die beslaglegging van ’n persoon (die skuldenaar) se roerende bates uitgereik word.
Dr. Llewelyn Curlewis

Die normale prosedure is dat die takseermeester sal bepaal wat die uitgawes was.

“As dit getakseer en endosseer is, word ’n brief gestuur wat sê wat die presiese bedrag is wat geskuld word en binne watter tydperk dit betaal moet word.

“As die geld nie binne daardie tyd betaal word nie, sal ’n lasbrief vir die beslaglegging van ’n persoon (die skuldenaar) se roerende bates uitgereik word.

“As dit nie genoeg is om al die skuld te delg nie, kan sy onroerende bates op ’n veiling verkoop word,” verduidelik Curlewis.

Omdat Zuma al sy regsopsies uitgeput het, bly nog net een ander stap vir hom oor, en dit is om aan te voer dat hy bankrot is.

Adv. Francois Kriel verduidelik dat luidens die oorspronklike beslissing van die hooggeregshof is Zuma persoonlik aanspreeklik verklaar om die regskostes, wat verkeerdelik in terme van die Wet op Staatsprokureur 56 van 1957 aan sy verdediging in verskeie sake bestee is, terug te betaal.

“Ná sy vrugtelose poging om te appelleer moes die staatsprokureur onder eed ’n volledige rekening opstel van al die regskostes wat deur die staat (belastingbetalers) namens mnr. Zuma in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan is.

“Die staatsprokureur moet ook alle stappe doen, insluitend om mnr. Zuma te dagvaar, om die geld te verhaal.”

Kriel sê die staatsprokureur verantwoordelik sou waarskynlik eers ’n aanmaningsbrief aan Zuma se regspan stuur.

Daarna sal ’n dagvaarding volg, en as hy steeds nie betaal nie, ’n siviele verhoor waarin die staatsprokureur sal aanvoer dat alle stappe gedoen is om die geld te verhaal en ’n summiere vonnis vir beslaglegging kan bekom.

“Daar is na my mening nie werklik iets wat mnr. Zuma nou meer daaraan kan doen nie. Hy het reeds elke verweer gebruik.”

Kriel voeg by dat, sou Zuma iewers in die buiteland geld hê, kan ’n beslagleggingsbevel daarteen bekom word en “op die meeste plekke ter wêreld uitgevoer word”.

Daar is na my mening nie werklik iets wat mnr. Zuma nou meer daaraan kan doen nie. Hy het reeds elke verweer gebruik.
Adv. Francois Kriel

Nog ’n advokaat voeg by dat Zuma wel kan probeer om aan te voer dat te veel tyd verloop het voordat die eis ingedien is, en dat dit al verjaar het.

“Maar dit gaan moeilik wees, omdat die tydsverloop deur al sy regsaksies veroorsaak is,” voeg die advokaat by.

Meer oor:  Regskoste  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.