Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gordhan-hofaansoek: OB loop deur, maar regsman kap terug
Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Tebogo Letsie

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het Donderdag onder skerp kritiek deurgeloop in Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria dat haar verdoemende verslag teen hom ter syde gestel moet word.

Die OB het verlede jaar bevind Gordhan het die Grondwet en die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree deur die parlement te mislei oor ’n vergadering met een van die Gupta-broers én oor ’n “geheime eenheid” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Sy is Donderdag daarvan beskuldig dat haar verslag onwettig, irrasioneel en vals is. Dit moet daarom hersien en ter syde gestel word.

Adv. Thabani Masuku SC, vir die OB, het egter volgehou Mkhwebane het billik en binne haar magte opgetree.

Die saak word aanlyn voor ’n volbank regters – regters Selby Baqwa, Annali Basson en Leonie Windell – aangehoor.

Adv. Wim Trengove SC, vir Gordhan, het aangevoer Mkhwebane was “blindelings vasberade” om ’n “ongunstige bevinding” teen Gordhan (wat destyds kommissaris van die SAID was) en verskeie ander mense te maak, ongeag die feite of die wetgewing wat tydens haar ondersoek aan haar voorgelê is.

Trengove het Mkhwebane daarvan beskuldig dat niemand die amp van die OB al meer skade berokken het as sy nie.

“Daar word van die OB verwag om onafhanklik, onpartydig, waardig en doeltreffend te wees,” het Trengove aan die regters gesê.

Hy het gesê die beëdigde verklaring wat Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die SAID, met haar ondersoek aan Mkhwebane gestuur het, wys die OB se gebrek aan kennis oor hoe die SAID as instelling funksioneer. Dit toon ook die wesenlike onwaarhede in haar bevindinge.

My kliënt is ’n onreg aangedoen deurdat hy nie eens die kans gebied is om kommentaar te lewer op die beweringe teen hom nie.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Gallo Images

Die hof het ook gehoor Gordhan het twee beëdigde verklarings en dokumente wat die OB kon help, aan haar voorgelê. Dit is geïgnoreer.

“My kliënt is ’n onreg aangedoen deurdat hy nie eens die kans gebied is om kommentaar te lewer op die beweringe teen hom nie,” het Trengove aangevoer.

Masuku het volgehou Mkhwebane het “redelik bevind” dat Gordhan probeer het om die waarheid te versteek oor sy ontmoetings en interaksies met lede van die Gupta-familie.

Die OB was ook nie roekeloos in haar bevindings nie. Dit was ook nie vals nie, het Masuku aangevoer.

Die bewerings teen haar het geen meriete nie. Haar verslag is ’n bewys dat ’n behoorlike ondersoek gedoen is.

Masuku het aan die regters gesê die hof moet die bewerings teen Mkhwebane “as kwaadwillig” verwerp. Die bewerings word nie deur feite ondersteun nie.

Regter Sulet Potterill het verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria gelas Mkhwebane se verslag kan op hersiening geneem word, maar die OB en die EFF het hulle toe na die konstitusionele hof gewend.

Die OB het in haar verslag aanbeveel pres. Cyril Ramaphosa, die parlement, die Staatsveiligheidsagentskap en die nasionale vervolgingsgesag moet dissiplinêr teen Gordhan optree. Sy wou hê Ramaphosa moet binne 30 dae stappe teen die minister doen.

Adv. Matthew Chaskalson SC, vir Ramaphosa, het aan die regters gesê die OB het ernstige bevindinge teen Gordhan gemaak en die president het kennis daarvan geneem.

Die president aanvaar hy is daartoe verbind om dissiplinêre stappe teen Gordhan te doen as sy hofaansoek onsuksesvol is.

As hy dissiplinêre stappe móét doen, sal hy self besluit wat dié stappe sal wees. Die OB kan nie dié besluit vir hom neem nie.

Die president sal hom berus by die hof se uitspraak, het Chaskalson gesê.

Die saak word Vrydagoggend voortgesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.