Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, verwelkom die feit dat die konstitusionele hof ’n aansoek van die openbare beskermer (OB) van die hand gewys het waarin sy appèl aangeteken het teen ’n hofbeslissing wat daarop neerkom dat sy nie die president kan dwing om dissiplinêre stappe teen Gordhan te neem nie.
Gordhan het gereageer nadat die OB, Busisiwe Mkhwebane, en die EFF se aansoeke om regstreekse toegang tot die hof om te appelleer teen die hooggeregshof se uitspraak oor haar verslag oor die sogenaamde “Rogue Unit” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Said).

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Felix Dlangamandla
Tebogo Malatji, Gordhan se regsverteenwoordiger, sê die minister verwelkom die eenparige beslissing waarin die appèlle van Mkhwebane en die EFF van die hand gewys is.
“In sy uitspraak het die konstitusionele hof uitsluitsel gegee oor die vraag of ’n tussentydse interdik teen die openbare beskerming beskou word as onbehoorlike inmenging by haar magte,” het Malatji gesê.
“Dit is die geval met minister Gordhan wat ’n tussentydse interdik gekry het om te keer dat sy regte nie benadeel word nie deur onder meer ongedefinieerde dissiplinêre aksie teen hom deur die president van die land terwyl hulle wag op ’n hersiening van die bevindinge en remediërende aksies van die openbare beskermer.”
Waarnemende hoofregter Sisi Khampepe sê in die uitspraak sy glo die hof het ’n regverdige balans tussen die regte en belange van alle partye gekry.
“Die hof het die regte toets gevind, dit toegepas op die feite en tot die gevolgtrekking gekom waartoe enige ander hof sou kom.
“Die openbare beskermer sal geen voorsienbare onherstelbare skade ly nie. Die tussentydse bevel sal nie haar grondwetlike mandaat in die wiele ry nie en dit sal geen nadele inhou vir enige van haar magte en take soos vervat in die Grondwet nie.”
Die hof het haar aansoek toegestaan om te appelleer teen die hooggeregshof se beslissing oor ’n straffende en persoonlike kostebevel teen haar en het dit tersyde gestel.
“ ’n Persoonlike kostebevel is reeds straffend en die hooggeregshof het geen redes aangevoer om ’n bevel van dié aard te regverdig nie,” lui die uitspraak.
Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, en Vuyani Pambo, woordvoerder van die EFF, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.