Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Govender kry ook borgtog in Modack-bedrogsaak

’n Medebeskuldigde van Nafiz Modack (37) in ’n bedrogsaak, het die landdroshof in Kaapstad Donderdag gevra dat hy net soos Modack en sy ma, Ruwaida Modack (60), op borgtog vrygelaat word.

Colin Govender, ’n voormalige brigadier in die polisie, is reeds in Mei 2018 gevonnis weens korrupsie. Die staat het hom Donderdag gevoeg by die saak teen die Modacks en twee van hul ondernemings.

Colin Govender (links) en Nafiz Modack in die landdroshof in Kaapstad. Foto: Maygene de Wee

Govender dien sy tronkstraf in die Malmesbury-gevangenis uit. Hy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar opgeskort is.

Ruwaida was nie Donderdag in die hof nie omdat sy siek is. Haar regsverteenwoordiger, Leon van der Merwe, het ’n doktersbrief namens haar by die hof ingedien.

Govender is gevonnis nadat hy, Arno Lamoer, voormalige polisiehoof in die Wes-Kaap, en Darius van der Ross, ’n voormalige brigadier, daaraan skuldig bevind is dat hulle ’n korrupte verhouding met die Kaapse sakeman Salim Dawjee gehad het.

Govender het Donderdag in sy borgtogaansoek aangevoer dat hy gerehabiliteer is en dat hy nie langer in ’n tronk aangehou moet word nie omdat hy ’n modelgevangene is.

Hy het ook aangevoer dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) aanbeveel het dat die res van sy tronkstraf in huisarres omgeskep moet word.

Hy het volgens sy borgtogaansoek reeds ’n kwart van sy vonnis uitgedien en het nog ’n bietjie minder as drie jaar oor om uit te dien.”

“Sou die aansoek (om huisarres) suksesvol wees, wat ek glo dit sal wees, sal ek binnekort vrygelaat word om die res van my vonnis onder huisarres uit te dien.”

Colin Govender (links) en Nafiz Modack in die landdroshof in Kaapstad. Foto: Maygene de Wee

Hy het verder gesê die DKD sal net met die aansoek kan voortgaan as daar sekerheid is dat hy op borgtog vrygelaat sal wees.

Modack en sy ma is verlede Dinsdag deur die Valke in hegtenis geneem. Hulle is ná ’n kort hofverskyning op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Die staat beweer dat Govender van November 2011 tot Augustus 2013 ’n korrupte verhouding met Modack gehad het.

Dit was glo in die tyd toe Govender bevelvoerder van die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor was.

Die drie staan tereg op altesame 51 aanklagte van korrupsie. Die aanklagte van korrupsie word gelees saam met die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca).

Die hof het gehoor die aanklagte teen Govender is bylae 5-misdrywe omdat hy ’n polisiebeampte was ten tyde van die beweerde misdrywe.

Govender kom glo binne die volgende 12 maande in aanmerking vir parool.

Luidens die klagstaat het Modack van 27 November 2011 tot 25 Augustus 2013 ’n bedrag van R147 400 in Govender se bankrekening betaal.

Dié geld het gekom uit die bankrekenings van AMG Auto BK en Peuxon Properties (Edms.) Bpk., twee ondernemings wat glo aan Modack en sy ma behoort het.

Die twee ondernemings is die derde en vierde beskuldigdes in die saak.

Die staat beweer Govender het in Desember 2012 ingemeng by ’n polisieondersoek deur polisiebeamptes van die Paarl-polisiekantoor in die Boland.

Die staat sê Govender het ’n salaris van tussen R50 543 en R57 568 per maand verdien toe hy die bevelvoerder van Kaapstad-Sentraal was.

Die polisiebeamptes het glo ’n gesteelde Mercedez-Benz met die registrasienommer CA 9420262 in die besit van ene Nazeem Saait, ’n sakemankennis van Modack, gevind.

Govender het toe glo opdrag gegee dat die voertuig nie aan die Paarl-polisie oorhandig moet word nie.

Govender het glo ook ingemeng toe Saait op 6 Augustus 2013 in Woodstock in hegtenis geneem is weens roekelose en nalatige bestuur en omdat hy hom teen ’n polisiebeampte verset het.

Die staat beweer verder dat Govender staatshulpbronne – polisiebeamptes en -voertuie – gebruik het om voertuie te help soek wat Modack namens banke moes opspoor. “Die voertuie is nooit amptelik deur die polisierekords nie.”

Govender het polisiebeamptes glo beloon vir elke voertuig wat hulle teruggekry het.

Die staat sê Govender het ’n salaris van tussen R50 543 en R57 568 per maand verdien toe hy die bevelvoerder van Kaapstad-Sentraal was.

Luidens die klagstaat was Govender as polisiebeampte veronderstel om ekstra vergoeding, asook geskenke, aan sy werkgewer te verklaar. Hy het dit nooit gedoen nie.

Landdros Greg Jacobs het borgtog van R5 000 aan Govender toegestaan, waarna die saak tot 16 Julie uitgestel is. Modack en sy ma se borgtog is verleng.

Adv. William King het vir Govender verskyn.

Meer oor:  Nafiz Modack  |  Korrupsieklagte  |  Bedrog  |  Borgtog  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.