Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Grey-beheerliggaam kry wind van voor in hof

Die beheerliggaam van Grey-kollege in Bloemfontein het die wind sterk van voor gekry in die hooggeregshof toe hy nie kon sê watter pligte hy aan die hoof van sy hoërskool gegee het en wat hy weer teruggevat het nie.

Deon Scheepers (tweede van links) hoof van Grey-kollege (sekondêr), by sy regspan in die hooggeregshof in Bloemfontein. Hulle is van links Hannes Peyper van Peyper-prokureurs en advv. Willem van Aswegen en Kemp J. Kemp SC. Foto: Mlungisi Louw
Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege (sekondêr) in die hof. Foto: Mlungisi Louw
Vier van die advokate wat in die aansoek van Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege (sekondêr), in die hof in Bloemfontein optree. Van links is advv. Willem van Aswegen, Tiaan Pienaar, Neil Snellenburg SC, en Kemp J Kemp SC. Foto: Mlungisi Louw
Henry Buchner (links), voorsitter van Grey-kollege se beheerliggaam, by twee lede van die beheerliggaam se regspan, adv. Jeremy Merabe en Marius van Rensburg van Horn en Van Rensburg-prokureurs, in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Waarnemende regter-president Cagney Musi en regter Corné van Zyl het uitspraak voorbehou in die aansoek van die skoolhoof, Deon Scheepers, waarin hy vra dat die beheerliggaam se besluit om sekere van sy pligte weg te neem, tersyde gestel en nietig verklaar word.

Regter Musi het gevra spesifiek watter pligte die beheerliggaam aan Scheepers gedelegeer het en wanneer. Dit is die kern van die saak, want die beheerliggaam het besluit om dit terug te vat.

“Dit is lekker om met woorde te speel, maar wees spesifiek,” het die regter gesê.

Adv. Johan du Toit SC kon hom nie antwoord nie. Dit was nie in die hofstukke nie.

Regter Musi het gesê as die beheerliggaam ontevrede was met Scheepers se werk, kon hy hom by die Vrystaatse onderwyshoof verkla het.

Du Toit het gesê daar was wel klagte, maar niks het daarvan gekom nie.

Regter Musi het gesê die beheerliggaam het sy “vuur op die verkeerde plek gemaak”.

As die onderwyshoof nie opgetree het nie, kon die beheerraad hom deur die hof verplig het, het regter Musi gesê.

Scheepers en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê die pligte wat die beheerliggaam op ’n vergadering op 15 Mei van Scheepers weggeneem het, was deel van sy pligte ingevolge sy aanstelling deur die onderwysdepartement.

Die beheerliggaam het nie die “luukse” om hom uit sy pos te verwyder nie, het adv. Kemp J. Kemp SC namens Scheepers betoog.

Die beheerraad wou Scheepers as die “gesig” van die skool verwyder toe hulle sy pligte net tot die akademiese sy van die skool beperk het. Dit was sy straf.

Die gebeure op die betrokke vergadering is vooraf beplan. Selfs die stembriewe is vooraf gedruk.

Regter Musi: “Dit was ’n verhoor en ’n straf?”

Kemp: “Ja.”

Oor die vennootskap tussen ’n skoolhoof en ’n beheerliggaam het Kemp aangevoer: “Jy kan nie net sê ek wil nie langer met jou getroud wees nie. Daar is ’n kontrak.”

Advv. Neil Snellenburg SC en Tiaan Pienaar tree in opdrag van Charles Dell van Lovius Block-prokureurs vir vir die SAOU op.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.