Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Grey se beheerliggaam kry bloedneus in hof

Die beheerliggaam van Grey-kollege in Bloemfontein spring riem in ’n uitspraak in die hooggeregshof in die stad waar ernstige kritiek oor hul optrede teenoor die skool se hoërskoolhoof uitgespreek word.

Veral die spesiale vergadering waarop die beheerliggaam in Mei vanjaar Deon Scheepers, die hoof, se pligte ingekort het en tot die akademie in die skool beperk het, loop deur in die uitspraak van waarnemende regterpresident Cagney Musi waarin hy Donderdag die besluite op dié vergadering nietig verklaar het.

Deon Scheepers (links) en sy prokureur, Hannes Peyper, vroeër in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: MLUNGISI LOUW

Benewens die feit dat die beheerliggaam nie die bevoegdheid gehad het om Scheepers van sekere pligte in die skool te stroop nie, het talle van die lede van die beheerliggaam op dié vergadering nie eens geweet wat die klagtes teen Scheepers was nie.

Tog het hulle daaroor gestem dat die pligte wat hy volgens wet en die amptelike beleid van die departement van basiese onderwys moet verrig, van hom ontneem word.

Geen wet magtig ’n beheerliggaam van ’n skool om dit te doen nie, sê Musi.

Oor die vergadering – wat vroeër in die hof as ’n boendoehof beskryf is – sê Musi al sou die beheerliggaam dié bevoegdheid gehad het, is Scheepers nie ’n billike kans gegun om sy kant te stel nie.

Die gebrek aan respek wat beheerraadslede voor van die leerlinge teenoor Scheepers betoon het, kan ook aan die leerlinge afsmeer.

Dit was nie nodig om hom aan die vernedering te onderwerp nie.

Hy is deur die beheerraad in ’n hinderlaag ingelei. Hy is aan vyandelike ondervraging onderwerp.

Die voorsitter van die beheerliggaam het met ’n lys klagtes gesit en Scheepers daarmee gekonfronteer. Daar is van hom verwag om daarop te reageer, al is hy nie kans gegun om hom daarop voor te berei nie.

Musi het ook bevind die beheerliggaam se aanstelling van Jurie Geldenhuys, die laerskoolhoof, as skoolbestuurder van die hoërskool om Scheepers se ontneemde pligte te verrig, was onregmatig.

Hy het gelas die beheerliggaam moet die regskoste van Scheepers en ook dié van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), wat tot die aansoek toegetree het, betaal.

  • Vroeër is berig dié koste kan tussen R2 miljoen en R3 miljoen beloop.

  • Dié bevele van Musi kom daarop neer dat Scheepers onmiddellik weer ten volle sy pligte as skoolhoof kan vervul.

  • Scheepers het deur sy prokureur, Hannes Peyper van Peyper-prokureurs, gesê hy is uit die aard van die saak tevrede met die hofuitspraak wat die ongemaklikheid van die afgelope tyd tot ’n einde bring. “Deon Scheepers doen ’n beroep op die belanghebbende partye om in ’n latere stadium bymekaar te kom om toekomsgerigte besluite in belang van Grey-kollege te neem,” lui sy verklaring.

  • Henry Buchner, voorsitter van die beheerliggaam, sê die uitspraak sal saam met die beheerliggaam se regspan bestudeer word. Dan sal op ’n vergadering van die beheerliggaam oor die pad vorentoe besluit word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.