Daggagebruikers mag nou dagga in privaatheid rook en kweek.
Dit is effektief wat Dinsdag se eenparige uitspraak van die konstitusionele hof in Johannesburg beteken.
Adjunkhoofregter Raymond Zondo het namens ’n volbank regters beslis dat die betrokke artikels van die Wet op Dwelms en die Gesondheidswet ongrondwetlik is. Sodoende is ’n vroeëre uitspraak deur die hooggeregshof in Kaapstad, waarteen die staat appèl aangeteken het, bekragtig.
“Die reg word nie beperk tot ’n huis of privaat woning nie. Dit gaan voortaan nie ’n strafregtelike oortreding wees vir ’n volwassene om dagga te gebruik of in hul besit te hê in (enige) private ruimtes nie,” het Zondo in sy uitspraak gesê. Die uitspraak het nie gemeld hoeveel gram dagga ’n persoon mag gebruik of besit nie, berig News24.

Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais
Die uitspraak kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad in Maart verlede jaar gelas het dat die verbod op persoonlike daggagebruik, -besit en -kweking in die privaatheid van die huis ongrondwetlik is.
Die hooggeregshof het bevind dat die betrokke artikels in die wet inbreuk maak op die eisers se reg op privaatheid en dat dit, ingevolge art. 172 van die Grondwet, binne 24 maande deur die parlement gewysig moet word.
Die ministers van justisie, maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, handel en nywerheid, internasionale betrekkinge en samewerking, die polisie asook die nasionale vervolgingsgesag (aansoekers) het hulle tot die hoogste hof gewend om die uitspraak tersyde te laat stel.
Volgens die aansoekers het die eisers nie ’n grondslag vir privaatheid bewys nie en ook nie dat enige (mense-)regte geskend word nie.
Zondo is van mening die parlement moet besluit op die hoeveelheid dagga
wat ‘n volwassene mag gebruik, besit of kweek om dit as “privaatgebruik” te
klassifiseer.
Die staat het ook getuienis voorgehou oor die nadele en gevare van daggagebruik.
Die saak spruit uit drie eisers wat die hof versoek het om dagga wettig te verklaar. Die eisers, onder andere Gareth Prince en Jeremy Acton (voorsitter van die Daggaparty), het in 2016 die aansoek by die hof ingedien. Al drie gebruik dagga vir geestelike en gesondheidsredes.
Die hof was Dinsdag vol ondersteuners. Die Traditional Healers Organisation for Africa, ’n organisasie wat ten gunste van die private gebruik van dagga is, het ook buite die hof met plakkate gedans.
Zondo se uitspraak is kort-kort deur ’n luide toejuiging onderbreek.