Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Grondwethof ‘oorskry sy mag’ met uitspraak oor Kieswet

Deur die parlement in sy “vreemde” en “ambisieuse” uitspraak net 24 maande te gee om ingewikkelde wetgewing te wysig sodat onafhanklike kandidate aan nasionale en provinsiale verkiesings kan deelneem, het die konstitusionele hof sy magte oorskry, meen Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep.

Sy het Donderdagoggend in ’n sitting van die Nasionale Vergadering se programme-komitee aan ’n vurige debat oor die implikasies van dié hofuitspraak deelgeneem.

Dit kom nadat die konstitusionele hof op 11 Junie in ’n verreikende uitspraak in die aansoek van die nieregeringsorganisasie New Nation Movement en ander bevind het dat dit ongrondwetlik is dat onafhanklike kandidate nie aan nasionale en provinsiale verkiesings mag deelneem nie.

Pemmy Majodina
Pemmy Majodina, hoofsweep. Foto: Adrian de Kock

Die hof het die parlement 24 maande gegee om die Kieswet te herskryf om dit moontlik te maak.

Die debat in die programme-komitee het gekom nadat die parlement se regspan die komitee van regsadvies oor die uitspraak bedien het. Die regspan het onder meer aanbeveel dat die parlement saam met die uitvoerende gesag werk om die betrokke wetgewing teen die spertyd te wysig.

Majodina het egter daaroor gesê die “vreemde” hofuitspraak se spertyd van 24 maande is “onregverdig” en “ambisieus” om die baie komplekse wette te verander.

Volgens haar vereis dit ’n omslagtige wetmakingsproses vir LP’s omdat tussen ses en sewe verskillende wette deur die uitspraak geraak word.

“Hoewel ons die regbank respekteer, oorskry hy soms sy magte. Ek val nie die regbank aan nie, maar hy oorskry sy magte omdat ons die wetmakers is wat elke proses moet volg.”

Majodina meen die parlement kan daarom nie aan oorhaastige wetmakery onderwerp word nie.

“Die uitspraak is egter daar en die publiek kyk na die parlement om die wetgewing te wysig. Dit gaan egter gepaard met baie prosesse.”

Dr. Charlotte Pilane-Majake, nog ’n ANC-LP, het bygevoeg dat dit al meer gebeur dat die howe “opdragte” aan die parlement gee. Sy meen ’n debat op ’n ander forum is nodig oor die oorskryding van magte en wat dit vir die drie arms van die staat beteken om binne ’n grondwetlike demokrasie te werk.

Hoewel ons die regbank respekteer, oorskry hy soms sy magte. Ek val nie die regbank aan nie, maar hy oorskry sy magte omdat ons die wetmakers is wat elke proses moet volg.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het ook gesê dat hy die hofuitspraak vreemd vind.

“Ek dink die konstitusionele hof moes na sy eie uitspraak gekyk het toe hy die Grondwet in 1996 gesertifiseer het.

“Dieselfde hof het destyds bevind dat die grondwetskrywers besluit het dat politieke partye die metode moet wees vir hoe die wil van die kiesers uitgedruk moet word.”

Mulder het bygevoeg dat die parlement egter weens die uitspraak nie ’n ander keuse het as om aan die spertyd te voldoen nie.

Lechesa Tsenoli, adjunk-speaker wat die komiteesitting gelei het, het gesê die konstitusionele hof het ’n beslissing gemaak. “Die parlement moet hom dus voldoende organiseer om ’n baie komplekse stel prosesse te onderneem om aan die vereistes van die uitspraak te voldoen.

“Enige debatte wat ons mag hê oor kwessies van ons verhouding (met die regbank) sal sekondêr wees en kan later op die gepaste forum of strukture gekommunikeer word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.