Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Gruwelhuis’ se pa meen sy vonnis is te swaar

Die pa wat bekend geword het as die ‘Springs-monster’ vir die marteling van sy vyf kinders en verkragting van sy oudste dogter meen sy straf is “skokkend swaar”.

Die pa van die sogenaamde Springs-gruwelhuis tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: Argief

Die 49-jarige man het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria ’n aansoek om verlof tot appèl gebring.

Regter Eben Jordaan het hom in dieselfde hof in Oktober 2018 tot 67 jaar tronkstraf gevonnis.

Die man, wie se identiteit weerhou word om sy kinders te beskerm, is in Mei 2014 saam sy gewese vrou in hegtenis geneem.

Die polisie is na die ouers se huis in Springs aan die Oos-Rand ontbied toe die oudste seun (destyds 11) na die bure gevlug en om hulp gevra het.

Dit het ’n einde gebring aan jare se mishandeling wat deur Jordaan in sy uitspraak as “marteling” bestempel is.

Hy het die man skuldig bevind aan poging tot moord op sy oudste seun, verkragting van sy oudste dogter, vyf aanklagte van kindermishandeling, vyf van kinderverwaarlosing, die besit en gebruik van dwelms, handel in dwelms, regsverydeling en die verhindering van die polisie om hul werk te doen.

In sy appèlaansoek sê die pa Jordaan het gefouteer in sy vonnisoplegging deur nie in ag te neem dat hy ’n eerste oortreder is nie.

Verder het die pa aangevoer hy is as kind en volwassene deel van ’n gesin wat groot finansiële druk ervaar het. Hy het klem gelê op die sielkundige verslag van Bronwynn Stollarz waarin genoem is psigopatie is ’n verwikkelde kombinasie van gene en omgewingsfaktore en dat ’n lae intellek by hom gediagnoseer is.

Die man en vrou van Springs wat skuldig bevind is aan verskeie misdade teen hul kinders. Foto: Argief

Vroeër is berig dat Stollarz ook die pa as ’n sadis en psigopaat beskryf het.

Die pa meen sy kinderlewe, gekenmerk deur seksuele mishandeling en swaarkry, maak hom geregtig op ’n ligter vonnis.

Jordaan het die man se aansoek van die hand gewys. Hy sê gedagtig aan die manier waarop die kinders gemartel was sal geen ander hof tot ’n ander bevinding kom nie.

* Die ma, wat intussen van die pa geskei is, is skuldig bevind op vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, die besit en gebruik van dwelms, regsverydeling en die verhindering van die polisie om hul werk te doen. Haar klagte is saamgevoeg waarvoor sy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is wat in die geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Jordaan het bevind as ’n mishandelde vrou is sy nie ’n geskikte kandidaat vir tronkstraf nie.

Meer oor:  Springs-Monster  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.