Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Gupta-man’ Sharma moet alle bates aan NVG verklaar

Iqbal Sharma, skatryk sakeman van Johannesburg, moet al sy buitelandse bates asook dié van sy vrou, Tarina Patel, aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) openbaar maak.

Dít is een van die streng borgtogvoorwaardes nadat Sharma, ’n vermeende Gupta-meeloper, Woensdag ná langer as ’n maand in aanhouding borgtog van R500 000 in die hooggeregshof in Bloemfontein toegestaan is.

Iqbal Sharma in die hof. Foto: Mlungisi Louw

Daarbenewens moet hy ’n lewensannuïteit van R600 000 binne 72 uur aan die staat oorteken.

Regter Joseph Mhlambi het in sy uitspraak gesê ’n moontlikheid of waarskynlikheid dat Sharma ’n vlugrisiko is omdat hy eiendom in die buiteland besit, is nie voldoende nie en het die beslissing van die streekhof in Bloemfontein om borgtog aan Sharma te weier, ter syde gestel.

Sharma se vrylating op borgtog volg nadat hy hom na die hooggeregshof gewend het om teen die beslissing van die streekhof te appelleer nadat hy op 8 Junie borgtog geweier is.

As deel van sy borgtogvoorwaardes mag Sharma nie binne 500 m van enige vertrekpunt in Suid-Afrika kom nie, of aansoek vir ’n paspoort of enige reisdokumente doen nie.

Hy moet ook die NVG 14 dae kennis gee van enige van sy saketransaksies, hetsy verkope, oorplasing van fondse of verhandelings.

Sharma moet verder by sy huis in Sandton tuisgaan en moet hom Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 20:00 by die polisiekantoor in Sandton aanmeld. Hy mag Gauteng nie sonder skriftelike toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie.

Hy mag ook nie met staatsgetuies kontak maak of met die ondersoek inmeng nie.

Sharma word saam met Peter Thabethe, voormalige hoof van die departement van die landbou in die Vrystaat, Limakatso Moorosi, ook ’n oudhoof van dié departement en deesdae uitvoerende hoof van Bloemwater, en Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die landboudepartement en nou adjunkdirekteur-generaal van samewerkende regering en tradisionele sake, asook sy swaer, Dinesh Patel, aangekla.

Die aanklagte hou verband met ’n volhoubaarheidstudie vir moontlike projekte van die Vrystaatse landboudepartement in 2011. Sharma en sy maatskappy Nulane Investments 204 is sowat R24,9 miljoen daarvoor betaal.

Volgens die staat was die studie ’n rookskerm vir die bedrieglike Estina-suiwelprojek by Vrede, waaruit sowat R288 miljoen onregmatig gevloei het.

Adv. Peter Serunye het namens die staat opgetree. Adv. Mannie Witz het vir Sharma opgetree.

Meer oor:  Nvg  |  Iqbal Sharma  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.