Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Gupta-sage: NVG begin nou momentum kry

“Ons sien waarskynlik nou die eerste groot stappe in die regte rigting.”

Só sê die polisiekundige prof. Rudolph Zinn van Unisa nadat die hooggeregshof in Bloemfontein ’n aansoek van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekende direktoraat toegestaan het om bates van Iqbal Sharma, sy maatskappy, asook ’n Gupta-maatskappy, voorlopig te bevries.

Zinn sê dié stappe van die NVG is die regte prosedure om korrupsiesake te ondersoek.

“Dit is belangrik om te verstaan wanneer korrupsie ondersoek word, moet jy eers die bates wat betrokke is en deur die korrupsie aangekoop is, bevries of daarop beslag lê.

Die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Argief

“Dit is nodig omdat die verdagtes die bates kan vervreem terwyl die ondersoek aan die gang is. Dit is waarskynlik die doeltreffendste manier.

“Nadat die eiendom bevries is, maak die wet voorsiening vir ’n volgende proses – en dit is dat daar op die eiendom beslag gelê kan word.

“Daar is ’n ander stel reëls wat hier geld en wat gebruik word om te sê dié bates is moontlik deur korrupte en misdadige bedrywighede bekom.

“Dit kan die NVG help om dié bates later te verkoop en die opbrengs daarvan aan die staat te gee waarmee die slagoffers byvoorbeeld vergoed kan word,” sê Zinn.

“Dit is ’n parallelle lyn met die strafregtelike klagte wat ondersoek word. Dit is wat jy nodig het om groot korrupsiesake doeltreffend te hanteer.

“Dit is die eerste groot stappe in die regte rigting en ’n mens sal wil sien tot watter mate die NVG dit deurvoer.

“Dit sal alles afhang of die NVG genoegsame bewyse het om ’n skuldigbevinding moontlik te maak – óf as dit dan in ’n siviele saak oorgaan, of die NVG genoeg getuienis het om ’n oorwig van omstandighede te regverdig om beslag te kan lê op die eiendom,” sê Zinn.

Dit is die eerste groot stappe in die regte rigting en ’n mens sal wil sien tot watter mate die NVG dit deurvoer.

Die hooggeregshof in Bloemfontein se voorlopige bevel, wat Woensdag toegestaan is, het betrekking op Sharma en sy maatskappy Nulane Investments 204, asook Islandsite Investments 180, wat aan Atul en Rajesh Gupta en hul vroue, onderskeidelik Chetali en Arti, behoort.

Die hofbevel is van toepassing op bates in Suid-Afrika en sluit in eiendom van Islandsite, Sharma en die eiendom van sy maatskappye, insluitend twee wat in die Verenigde Arabiese Emirate geregistreer is.

Die hof het ’n kurator aangestel wat in beheer van die bates sal wees, hangende die strafregtelike klagte van bedrog en geldwassery wat teen Sharma, Nulane, Islandsite, die vier Guptas en ander in die streekhof in Bloemfontein aangehoor gaan word.

Zinn se Unisa-kollega emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner, sê die een ná die ander mens wat na bewering by korrupsie betrokke was, word nou aangekla.

Dit gaan groter momentum begin kry.

“Dit is die groot visse wat nou gevang word. Mense is dikwels bekommerd oor dit so lank neem, maar die NVG moet seker maak van sy saak voordat iemand aangekla word.

“Onthou, daar is net een kans omdat iemand nie ’n tweede keer vir dieselfde klag aangekla en verhoor kan word nie,” sê Labuschagne.

“Die wêreld raak nou klein vir die Guptas ná Suid-Afrika se versoek aan Interpol om hulp met hul inhegtenisneming.”

Meer oor:  Guptas  |  Bates  |  Eiendom  |  Momentum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.