Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Haatspraak-saak: ‘BLF vier nie ander se dood’

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), het Dinsdag aan die gelykheidshof in Johannesburg gesê dat die uitlatings op sosiale media deur lede van sy organisasie nie as haatspraak beskou moet word nie, maar as ’n “spontane reaksie wat vanuit ’n plek van pyn kom”.

Dié verduideliking deur Mngxitama volg kort nadat adv. Dirk Groenewald, namens die vakbond Solidariteit, die uitlatings deur die BLF na die tragiese dood van vier leerlinge van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark as haatspraak, lastering en diskriminasie bestempel het.

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), Dinsdag aan die gelykheidshof in Johannesburg. In die agtergrond is adv. Dirk Groenewald wat namens Solidariteit opgetree het.Foto: Werner Beukes

Solidariteit het die BLF voor die gelykheidshof gedaag nadat hy ’n mandaat van Dean Nagel, die pa van die oorlede Marnus Nagel (16), Jan Steyn, die pa van die oorlede Jandré Steyn (13), Lucille Olivier, die ma van Stephan Olivier, ’n omstander, asook van Willem Delport, pa van Jennifer Delport (14) wat beseer is, ontvang het om die regstappe te doen.

Solidariteit het op 14 Februarie ’n klag by die polisie en die gelykheidshof teen Lindsay Maasdorp, BLF-woordvoerder, aanhangig gemaak nadat hy die dood van die vier leerlinge in die loopbrug-tragedie by die skool gevier het en gesê het dit is ’n gepaste straf vir wit mense en hul kinders.

Die BLF, Maasdorp en nog ’n BLF-lid wat op die twiets gereageer het, Zwelakhe Dubasi, is die respondente in die saak.

Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel is op 1 Februarie dood en 29 kinders beseer toe ’n loopbrug by die skool in Gauteng meegegee het.

Maasdorp het daarna op Twitter geskryf: “I would ‘mourn’ the deaths of victims if they turned out to be black but ‘celebrate’ them if they were ‘white’.

Hy het bygevoeg: “If our God has finally intervened and our ancestors have petitioned and seen that these white land thieves have now died, then I definitely celebrate it. I celebrate the death of our enemies, their children, their cats and their dogs. That is our position.”

Adv. Dirk Groenewald (vir Solidariteit) Dinsdag in die gelykheidshof in Johannesburg. In die agtergrond is Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF). Foto: Werner Beukes

Groenewald het Dinsdag voor regter Ratha Mokgoatlheng aangevoer: “Daar is nie ’n groter vorm van haat as om die dood van ’n ander te vier, veral as dié wat gesterf het onskuldige kinders is nie.”

Groenewald wil hê dat die BLF die ouers van die kinders wat dood is om verskoning moet vra. “Niemand van die BLF het in al na vore gekom om jammer te sê nie.”

Op ’n vraag van Mokgoatlheng oor ’n verduideliking vir die aard van die uitlatings, het Mngxitama net sy kop geskud en gesê: “Dit was ’n spontane reaksie. Ons vier glad nie ander se dood nie. Maar as swart kinders in puttoilette val en sterf word daar nie ’n groot ophef gemaak nie. Die spontane reaksie deur die BLF-lede moet teen die agtergrond van ons geskiedenis en waar ons as ’n land vandaan kom, gesien word. Solidariteit gebruik hierdie tragedie om ons as ’n organisasie polities by te kom.”

Hy het ook ontken dat die BLF “bloeddorstig is” deur die dood van ander te vier en dat dié twiets nie namens die BLF uitgestuur is nie. “Ons is ’n revolusionêre beweging en nie ’n politiese organisasie nie. Ons beywer ons vir die regte van arm swart mense wat steeds deur wit mense verdruk word.”

Mokgoatlheng het Mngxitama daaraan herinner dat die dood van die hoërskoolleerlinge niks met kleur te make het nie.

Volgens Mngxitama moet uitlatings wat “ongemaklik is en seermaak” beskerming geniet solank dit nie geweld aanhits nie.

“Dié nasie van ons is abnormaal. Baie mense moet met die pyn van die verlede saamleef. Die BLF het nooit gaan sit en besluit om ’n verklaring oor die dood van die leerlinge uit te reik nie. Wat getwiet is kom vanuit ’n plek van pyn waarmee swart mense moet saamleef.”

In reaksie het Groenewald gesê die BLF kan nie agter enige vorm van historiese woede vir die uitlatings van hul lede skuil nie. “Haatspraak is haatspraak. Die BLF sê hulle is in ’n stryd gewikkel met wit mense en dit is binne hierdie konteks dat hul uitlatings beoordeel moet word.”

Uitspraak in die saak is voorbehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.