Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Halfmiljoen vir haar wysvinger

’n Vrou van Gordonsbaai dagvaar die skrywer en perdeteler Patricia Cavendish O’Neill vir sowat ’n halfmiljoen rand nadat haar vinger deur Cavendish O’Neill se sjimpansee afgebyt is.

Juliana Cromhout
Juliana Cromhout (69) buite die hof. Foto: Edrea du Toit

Die eksentrieke Cavendish O’Neill – wat op haar dag fabelagtig ryk was – was jare gelede in die nuus nadat sy haar plaas aan haar sjimpansee en sy dierevriende bemaak het.

Die sjimpansee Kalu is in die vroeë 1990’s deur Cavendish O’Neill in die oorloggeteisterde Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) gered en woon sedertdien saam met meer as 65 honde, ape en bobbejane op haar plaas Broadlands naby Somerset-Wes. Sy vertel die verhaal van Kalu in haar boek A Chimpanzee in the Wine Cellar.

Die eis teen Cavendish O’Neill, Amanda Carey en Ronald Antrobus (al drie trustees van die Cavendish O’Neill Animal Trust) spruit uit ’n voorval in Desember 2013 toe Kalu die regterwysvinger van Juliana Cromhout afgebyt het. Cromhout was destyds ’n huurder op Broadlands.

Cromhout se regterhand sonder wysvinger. Foto: Julian Jansen

Antrobus, een van die respondente, is intussen oorlede.

Ná verskeie oponthoude het die saak uiteindelik die afgelope week in die hooggeregshof in Kaapstad begin.

Die 69-jarige Cromhout het getuig dat sy destyds verby die afgesperde gebied waarin Kalu aangehou is, geloop het met ’n sak vye onder haar regterarm. Die sjimpansee het haar skielik aan die arm gegryp en dit deur die heining getrek. Die dier het toe Cromhout se wysvinger morsaf gebyt en dit uitgespoeg.

Sy voer aan dat Kalu se hok nie behoorlik omhein was nie en dat daar geen waarskuwingstekens was dat die dier gevaarlik is nie. Sy sê ook O’Neill en die ander respondente het haar nooit oor die moontlike gevaar gewaarsku nie.

Patricia Cavendish O’Neill in 2011. Foto: Denzil Maregele

Op ’n vraag van adv. Ashley Branford (wat vir Cavendish O’Neill en Carey optree) het sy ontken dat sy verbaal gewaarsku is om nie naby Kalu te kom nie. Sy sê sy is nooit “gewaarsku” nie, maar slegs “vermaan” (cautioned) deur ’n man (wie se naam sy nie genoem het nie) wat destyds ’n “slegte ervaring” met Kalu gehad het toe die dier hom aangeval, sy klere van sy lyf getrek en hom tussen die bene gegryp het.

Cromhout het Donderdag ’n aansoek ingedien om besonderhede van haar eis aan te pas.

Regter Judith Cloete het dit van die hand gewys en die respondente gelyk gegee dat Cromhout se aanpassings bloot ’n poging is om die foute en gebreke in haar oorspronklike eis reg te stel. Sy wil onder meer addisionele gronde vir nalatigheid by haar saak laat voeg – naamlik dat die drie respondente haar aangemoedig het om interaksie met die sjimpansee te hê.

Branford het ook ’n aansoek om absolusie van instansie gebring, waarin die hof gevra word om te beslis dat dit onmoontlik is om te sê watter een van die partye reg of verkeerd was.

Die 93-jarige Cavendish O’Neill, die dogter van brig.genl. Frederick Cavendish en Enid, gravin van Kenmare, was op haar dag fabelagtig ryk.

In 2003 was sy in die nuus toe sy haar Australiese man, Frank O’Neill, ’n voormalige Olimpiese swemkampioen, onterf het en Broadlands aan Kalu en dié se dierevriende bemaak het. Teen 2010 is sy egter haar rykdom van R690 miljoen kwyt deur die toedoen van haar destydse finansiële bestuurder. Sy het Broadlands toe verkoop op voorwaarde dat sy vir die res van haar lewe met Kalu en haar diere op die plaas mag bly.

Cromhout het aan Rapport gesê die saak het sy tol geëis, maar dat sy volle vertroue in haar regspan het.

Meer oor:  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.