Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Halfsuster en dié se man aangekla van moord op kankerlyer

’n Erg gebrande lyk wat met vasgebinde hande en ’n sak oor die kop gedurende ’n veldbrand gevind is, is geïdentifiseer as dié van die vermiste kankerlyer Debbie Venter.

Dinsdag het haar halfsuster, Danieta van Rhyn, en dié se man, Gert van Rhyn, albei 39, in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn op aanklagte van moord en regsverydeling.

Danieta en Gert van Rhyn, Debbie Venter se halfsuster en dié se man, het Dinsdag in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn op aanklagte van moord en regsverydeling. Foto: Deaan Vivier

Dié deurbrake volg nadat lede van die Bronkhorstspruit-polisie se speurtak destyds snuf in die neus gekry het toe Venter (52), wat fase 4-kanker gehad het, op 29 Mei deur Gert as vermis aangemeld is.

Venter het skaars twee maande voor dit vanaf die Oos-Rand na die Van Rhyns in Bronkhorstspruit verhuis, glo juis vir bystand met haar siekte.

Sy het in daardie stadium 42 kg geweeg en moes doeke vir volwassenes dra. Op 12 Mei is ’n groot polisbedrag aan Venter uitbetaal, vermoedelik om te help met onkoste weens haar siekte.

Gert en Danieta van Rhyn, albei 39, wat van die moord op Debbie Venter, ’n kankerlyer, aangekla word. Foto: Verskaf

Twee weke later het sy glo sommer net met haar motor weggery.

Op 1 Junie het Danieta op Venter se Facebook-blad ’n half-vies boodskap geplaas, meestal in hoofletters, wat lui: “DEBBIE AS JY DIE BOODSKAP OP JOU WALL SIEN, ASB REAGEER NET!!

DIT IS HOE GENAAMD NIE AANVAARBAAR DAT JY ALMAL WAT JOU LIEF HET, BYSTAAN, VERSORG, ONDERSTEUN, EN ONDERSKRAAG SO DIE RUG TOEKEER NIE!!

ONS ALMAL HET JOU SO BAIE LIEF!!!

ASB LAAT IEMAND NET WEET DAT JY OK IS??

OF ANTWOORD JOU FOON.

EK PERSOONLIK HET AL MEER AS 7 OPROEPE JOU FOON KRY LUI TOT VOICEMAIL, OF JY DRUK DOOD???

ASB MY SUSSIE, EK SMEEK JOU!!”

Die laaste plasing op Debbie Venter se Facebook-blad was op 1 Mei deur haar halfsuster. Foto: Skermgreep

Toe verdwyn die Van Rhyn-egpaar uit Bronkhorstspruit.

Lt.kol. Solly Magongwa, takbevelvoerder van die Bronkhorstspruit-speurdiens, het Dinsdag buite die hof gesê ao. Gerda Tosen en sers. Verusca Marais het sedert Venter vermis geraak het, onverpoos aan die saak gewerk.

Hulle het die polisie se honde-eenheid, kubermisdaad-eenheid wat fone naspoor en die ondersoekgerigte sielkunde-eenheid betrek.

Intussen was daar op 12 Junie ’n veldbrand in Lindopark, Pretoria. Brandweerlede het gedurende die bestryding van die brand ’n lyk, erg ontbind en gebrand, in ’n dreingat gevind, groot genoeg vir die tenger postuur om halfkrom in te pas.

“Die persoon se hande was agter die rug vasgebind en daar was ’n plastieksak oor die persoon se kop getrek. Die identiteit kon nie in daardie stadium bepaal word nie, maar die patoloog kon bepaal dat dit ’n wit vrou van so in die 50’s is, wat siek was,” het Magongwa gesê.

Debbie Venter (52) wat in Mei as vermis aangemeld is. Haar lyk is vroeër in ’n dreingat tydens ’n veldbrand in Pretoria gevind. Foto: Verskaf

Die twee ondersoekbeamptes het dié en ander inligting opgevolg.

“Op Saterdag 4 Julie is Danieta en Gert van Rhyn in Queenswood, Pretoria, in hegtenis geneem waar hulle in ’n huis geskuil het,” het die speurhoof bygevoeg.

Toe, nog voordat die beskuldigdes se saak in die hof geroep is, is Magongwa buite die hof ingelig: Die lyk wat tydens die veldbrand gevind is, is met vingerafdrukke as dié van Venter geïdentifiseer.

In die hofsaal het die Van Rhyns, toe nog onbewus hiervan, die beskuldigdebank betree.

Landdros Maryke de la Rey het hul regte tot regsverteenwoordiging aan hulle verduidelik, waarop die twee gevra het vir ’n prokureur van Regshulp SA.

Hulle het bygevoeg dat hulle die huis in Queenswood huur en as vaste adres sal opgee met ’n borgtogaansoek.

Riekus Kriel, die staatsaanklaer, het geantwoord dat die inligting wat hy in die dossier het, “ ’n ander prentjie skets” as dit wat die beskuldigdes aan die hof gee.

“Die staat sal definitief borgtog teenstaan,” het hy bygevoeg.

Die saak is uitgestel tot later die maand en die Van Rhyns bly in aanhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.