Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hanekom dagvaar Zuma vir laster

Oudpres. Jacob Zuma word deur nog ’n hofsaak in die gesig gestaar – dié keer vir laster nadat hy een van sy vorige kabinetslede ’n “agent van die vyand” genoem het.

Derek Hanekom, oudminister van toerisme, het hom tot die hooggeregshof in Durban gewend om dié bewering deur Zuma teen hom te toets. Hy dagvaar Zuma vir R500 000.

Derek HanekomFoto: VERSKAF

Dit volg op ’n twiet deur Zuma op 25 Julie wat lui: “Ek is nie verbaas deur @Julius_S_Malema se onthullings oor @Derek_Hanekom nie. Dit is deel van die plan waarna ek verwys het by die Zondo-kommissie. @Derek_Hanekom is ’n bekende agent van die vyand.”

Sy twiet is met verwysing na ’n erkenning deur Hanekom dat hy met die EFF-leierskap vergader het om ’n mosie van wantroue in Zuma te bespreek.

Zuma het in Julie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat daar ’n samesweringskomplot tussen plaaslike intelligensiedienste en dié van twee “groot lande” teen hom was om hom deur “karaktermoord” uit die ANC te verwyder.

Zuma het onder meer getuig dat adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van mineralebronne, ’n “spioen” was en dat Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie, asook voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, opdragte van die apartheidspolisie ontvang het.

Ramatlhodi sowel as Nyanda het Zuma kort daarna uitgedaag om ’n leuenverklikkerstoets te ondergaan om dié bewerings te bewys.

Hanekom, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee asook die nasionale werkkomitee, wys in hofstukke daarop dat Zuma se twiet sy reputasie “ontsaglike skade” berokken het en dat dié skade sal voortduur as die uitlating sonder teregwysing gepubliseer word.

Hy voer aan dat Zuma Malema se uitlating as ’n vertrekpunt gebruik om te sê dat hy ’n “agent van die vyand” was in die konteks van die getuienis wat Zuma voor die Zondo-kommissie gelewer het. “Die doel van mnr. Zuma se uitlating en vir dié wat dit lees, is om te sê dat ek ’n apartheidspioen was en deel was van die plan om die ANC te infiltreer en karaktermoord op mnr. Zuma te pleeg.”

Volgens Hanekom is die uitlating ongegrond en “totaal vals. Ek is nie, en was nooit ’n spioen vir die apartheidsregering en enige owerheid nie. Mnr. Zuma het geen bewyse om sy bewering te staaf nie. Tog weier hy om die uitlating van sy Twitter-rekening te verwyder,” lui Hanekom se hofstukke.

Hy vra die hof om te bevind dat Zuma se twiet “lasterlik en onwaar” is. Hy wil ook hê die hof moet Zuma beveel om die twiet asook “onvoorwaardelik die spioenasie-bewering” uit te wis, en om te erken dat dit vals is en dat hy om verskoning vra.

Business Day het berig dat Zuma se regspan Maandag ’n kennisgewing by die hof ingedien het dat hulle die saak gaan teenstaan. Dan Mantsha, Zuma se regsverteenwoordiger, kon nie dadelik Dinsdag vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Oudpres. Jacob Zuma  |  Politiek  |  Laster  |  Dagvaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.