Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hanekom ‘verlig’ lastersaak is verby

Die ANC-veteraan Derek Hanekom is “verlig” dat sy lastersaak teen oudpres. Jacob Zuma uiteindelik verby is.

“Die hoofstuk is afgesluit en ek is tevrede met die uitkoms.”

Derek Hanekom Foto: Jaco Marais
Die hoofstuk is afgesluit en ek is tevrede met die uitkoms.

Zuma het Hanekom Sondag om verskoning gevra nadat hy hom verlede jaar in ’n twiet “ ’n agent van die vyand” genoem het. Dit kom nadat Hanekom se regsverteenwoordigers Sondag gedreig het om ’n dringende aansoek van minagting van die hof in te dien omdat Zuma glo die beslissing Woensdag van die konstitusionele hof verontagsaam het.

Jana Breytenbach het berig die konstitusionele hof het Zuma se aansoek om verlof tot appèl om die lastersaak in sy guns te laat swaai van die hand gewys omdat dit volgens die hof geen vooruitsig op sukses het nie.

Hanekom het die lastersaak teen Zuma ingedien nadat laasgenoemde op 25 Julie verlede jaar getwiet het dat Hanekom ’n “ ’n agent van die vyand” is.

Sy twiet het gevolg op onthullings dat Hanekom met die EFF vergader het om ’n mosie van wantroue in Zuma te bespreek terwyl hy nog president was.

Zuma het Sondagmiddag die twiet verwyder en ’n verskoning op sy Twitter-rekening geplaas.

“Op 25 Julie 2019 het ek in ’n twiet beweer dat Derek Hanekom ’n bekende agent van die vyand is. Ek onttrek hierdie bewering onvoorwaardelik en ek vra om verskoning daarvoor aangesien dit vals is.”

Hanekom sê hy het Zuma se verskoning aanvaar.

“Die skadevergoeding en koste sal nog deur die hof bepaal word, maar die kern van die saak is nou verby.”

Hanekom het R500 000 van Zuma geëis en die hof het ook bepaal dat hy die koste van die saak moet dra.

Zuma het in die hofstukke wat hy in Julie by die konstitusionele hof ingedien het, gesê sy reg op vryheid van spraak is geïgnoreer toe die hooggeregshof in KwaZulu-Natal bevind het dat hy Hanekom belaster het.

Die hooggeregshof in KwaZulu-Natal het Zuma in September 2019 beveel om verskoning te vra vir die twiet en hom verbied om ooit weer enige stelling te publiseer wat sê óf impliseer dat Hanekom ’n agent van die vyand of apartheidspioen was.

Die hof het bevind die twiet was vals en lasterlik en het beveel dat dit binne 24 uur ná die uitspraak verwyder moes word. Die oudpresident is ook beveel om binne 24 uur ’n verskoning op sy Twitter-rekening te plaas.

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Jacob Zuma  |  Verskoning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.