Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hanekom vs. Zuma: Verloorder sal moet opdok

Wie ook al as verloorder uit die stryd tree in die lastersaak van Derek Hanekom, oudminister van toerisme, teen oudpres. Jacob Zuma, sal vir die regskoste moet opdok.

Dit was Dinsdag die mening van die regskenner dr. Llewellyn Curlewis nadat Hanekom die voormalige president vir R500 000 gedagvaar het omdat Zuma hom in ’n twiet ’n “agent van die vyand” genoem het.

Curlewis, wat verbonde is aan die Universiteit van Pretoria, het by navraag gesê “hy wat beweer, moet bewys”.

Volgens hom rus die bewyslas in dié geval op die eiser, wat Hanekom is. Hy moet bewys dat dit inderdaad Zuma was wat die woorde gebesig het. “Hanekom sal moet bewys sy eer is gekrenk deur die woorde in die konteks waarin dit gesê is.”

Derek Hanekom, oudminister van toerisme. Foto: VERSKAF

Die regskoste in dié soort sake word gewoonlik gedra deur die persoon wat verloor.

Die lastersaak kom nadat Zuma op 25 Julie getwiet het: “Ek is nie verbaas deur @Julius_S_Malema se onthullings oor @Derek_Hanekom nie. Dit is deel van die plan waarna ek by die Zondo-kommissie verwys het. @Derek_Hanekom is ’n bekende agent van die vyand.”

Sy twiet het gevolg op die onthulling dat Hanekom met die EFF-leierskap vergader het om ’n mosie van wantroue teen Zuma te bespreek.

Zuma het in Julie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat daar ’n samesweringskomplot tussen plaaslike intelligensiedienste en dié van twee “groot lande” teen hom was om hom deur “karaktermoord” uit die ANC te verwyder.

Hy het onder meer getuig dat adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van mineralebronne, ’n “spioen” was en dat Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie, asook voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, opdragte van die apartheidspolisie ontvang het.

Ramatlhodi en Nyanda het Zuma kort daarna uitgedaag om ’n leuenverklikkerstoets te ondergaan om dié bewerings te staaf.

Hanekom voer aan dat Zuma Malema se uitlating as ’n vertrekpunt gebruik om te sê dat hy ’n “agent van die vyand” was in die konteks van die getuienis wat Zuma voor die Zondo-kommissie gelewer het.

“Die doel van mnr. Zuma se uitlating en vir dié wat dit lees, is om te sê dat ek ’n apartheidspioen was en deel was van die plan om die ANC te infiltreer en karaktermoord op mnr. Zuma te pleeg,” lui Hanekom se hofstukke.

Hanekom voer verder aan dat Zuma se twiet sy reputasie “ontsaglike skade” berokken het. Dit is ’n groot bron van kommer vir hom en sy vrou en hy is deur ANC-lede met “agterdog en wantroue” bejeën weens die uitlating.

* Zuma se regskoste, wat oor sowat ’n dekade strek, het na wat berig word teen Desember verlede jaar tussen R15 miljoen en R32 miljoen beloop. Hy het in Mei vanjaar gesê hy word “gedwing om hoede en kouse” te verkoop om sy regskoste te betaal. Hy het dié uitlating volgens AFP buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg gemaak waar hy onder meer teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog wat uit Suid-Afrika se omstrede multimiljardrand-wapenskandaal spruit.

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.