Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hanekom wen hofsaak teen Zuma, maan teen vals inligting

Derek Hanekom het Vrydagoggend se uitspraak van die hooggeregshof in Durban teen oudpres. Jacob Zuma verwelkom.

Die hof het bevind die publikasie van Zuma se twiet dat Hanekom ’n “agent van die vyand” is, is “lasterlik en vals”.

Hanekom het ná die uitspraak ’n sterk waarskuwing teen die verspreiding van waninligting gerig omdat dit tot onder meer “woede en haat” kan aanleiding gee soos vandeesweek in Suid-Afrika gesien is.

Derek HanekomFoto: GCIS

Die hof het gelas Zuma moet op Twitter om verskoning vra én sy oorspronklike twiet op alle sosialemedia-platforms uitwis.

Hanekom, senior ANC-lid en voormalige minister van toerisme, het Zuma vir R500 000 vir laster gedagvaar.

Die hof het beveel ’n mondelingse verhoor moet plaasvind om die skadevergoedingsbedrag te bepaal.

Hanekom het in ’n verklaring gesê die hofuitspraak kom aan die einde van ’n week van ongebreidelde geweld in die land wat aangevuur is deur disinformasie, wan-inligting, etikettering en om mense sondebokke te maak.

“Deur die week is vals inligting en ou beeldmateriaal versprei wat woede en haat uitgelok het. Mede-Suid-Afrikaners en Afrikane van oor die vasteland heen was onderhewig aan plundery en stropery deur misdadige boewe. Lewens is verloor. Dit is wat gebeur wanneer sigbaar valse beweringe gemaak word.

“Ons moet saamstaan teen die verspreiding van leuens en om vrees te vestig. Ons welstand en dié van ons kinders en kleinkinders hang daarvan af dat ons saamwerk om die land te bou wat in die Grondwet in die vooruitsig gestel word. Soos pres. Cyril Ramaphosa gister in sy toespraak aan die nasie gesê het, dit is tyd vir ons om te verenig en ‘die Suid-Afrika te bou wat ons wil hê en wat al ons mense so ryklik verdien,” lui Hanekom se verklaring.

Hy het hom tot die hof gewend nadat Zuma op 25 Julie ’n inskrywing op Twitter gemaak het wat gelui het: “Ek is nie verbaas deur @Julius_S_Malema se onthullings oor @Derek_Hanekom nie. Dit is deel van die plan waarna ek verwys het by die Zondo-kommissie. @Derek_Hanekom is ’n bekende agent van die vyand.”

Die hof het nou gelas Zuma moet die twiet binne 24 uur van alle mediaplatforms uitvee, insluitend Twitter. Hy moet ook binne 24 uur ’n verskoning op sy Twitter-rekening @PresJGZuma publiseer.

Zuma se twiet het gekom nadat dit aan die lig gekom het Hanekom het met die EFF-leierskap vergader om ’n mosie van wantroue teen Zuma te bespreek.

Zuma het kort voor dit voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig daar is ’n samesweringskomplot onder plaaslike intelligensiedienste en dié van twee ander “groot lande” teen hom om hom deur “karaktermoord” uit die ANC te verwyder. Hy het getuig adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne, is ’n “spioen” en dat Siphiwe Nyanda, oudminister van kommunikasie en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, opdragte van die apartheidspolisie ontvang het.

Ramatlhodi, sowel as Nyanda, het Zuma kort daarna uitgedaag om ’n leuenverklikkerstoets te ondergaan om dié beweringe te bewys.

Hanekom het aangevoer Zuma het Malema se opmerking as ’n wegspringplek gebruik om te sê dat hy ’n “agent van die vyand” was in die konteks van die getuienis wat hy voor die Zondo-kommissie gelewer het. “Gevolglik was die voorneme van die uitlating deur mnr. Zuma en dié wat dit lees om te beteken dat ek ’n apartheidspioen was en deel was van die plan om die ANC te infiltreer en karaktermoord te pleeg op mnr. Zuma,” het Hanekom se hofstukke gelui.

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Oudpres. Jacob Zuma  |  Politiek  |  Hof  |  Uitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.