Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hannah-beskuldigde aktief op Facebook

Geraldo Parsons, die tweede beskuldigdes in die moord- en verkragtingsaak van die Matiestudent Hannah Cornelius, blyk steeds heel aktief op Facebook te wees, al word hy sedert sy inhegtenisname in Mei 2017 in die Pollsmoor-gevangenis aangehou.

Die foto wat van Geraldo Parsons geneem is toe hy in die hof verskyn het. Foto: Facebook/Geraldo Parsons

Hy het selfs foto’s van homself op sy profiel gelaai van een van sy vorige hofverskynings tydens ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad.

Die jongste inskrywing, waar hy foto’s van ’n familielid se verjaardagpartytjie geplaas het, het Parsons Dinsdag om 04:01 geplaas.

Hierdie foto is op 9 Oktober om 03:57 op Geraldo Parsons se Facebook-profiel gelaai. Foto: Facebook/Geraldo Parsons

Daar is sowat tien foto’s met die opskrif: “My pis b*ll*s daai”.

Daar word gereeld foto’s onder sy profiel op Facebook gelaai.

Die foto’s is meestal van homself en diegene na aan hom, maar op 8 Augustus – die dag voor Vrouedag – het hy ’n inskrywing gedeel met ’n foto van ’n man wat ’n vrou probeer slaan en die boodskap wat lui: “ ’n Man wat ’n vrou slaan, is nie ’n man nie”.

Parsons het hierdie inskrywing op 8 Augustus gedeel. Foto: Facebook/Geraldo Parson

Die polisie ondersoek nou die gebruik van ’n selfoon in die tronk.

Parsons staan saam met Vernon Witbooi en Eben van Niekerk tereg op tien aanklagte. Hulle het skuld ontken op vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van menseroof, een aanklag van poging tot moord, een van verkragting en een van moord. Die vierde beskuldigde, Nashville Julius, staan tereg op twee aanklagte van menseroof en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Hy het ook skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Cornelius se lyk is langs die pad naby ’n wynplaas buite Stellenbosch gevind. Sy is die laaste keer lewend gesien waar sy en haar vriend Cheslin Marsh in Birdstraat, Stellenbosch, in haar motor gesit het.

Die beskuldigdes het die studente na bewering met ’n skerp voorwerp soos ’n skroewedraaier gedreig en hulle in haar motor ontvoer. Die mans het na bewering met hulle na Kraaifontein gery, waar Marsh herhaaldelik aangerand is, met ’n skerp voorwerp gesteek, met bakstene gegooi en vir dood agtergelaat is.

Marsh sal na verwagting Woensdag getuig en sal kringtelevisieopnames gebruik om sy getuienis te staaf.

Cornelius se pa, Willem, het nog nie die saak bygewoon nie.

Haar ma, Anna, is in Maart vanjaar oorlede nadat sy by Scarborough gaan swem het.

Meer oor:  Kaapstad  |  Hannah Cornelius  |  Hof  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.