SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Hof
Hannah se gesin ‘het saam met haar gesterf’
Willem Cornelius, Hannah Cornelius se pa, Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Hannah Cornelius se gesin het “saam met haar gesterf” en is begrawe toe haar ma ná haar dood die see ingeloop en nooit weer teruggekom het nie.

So het Willem Cornelius, Hannah se pa, Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig ter verswaring van die straf van die vier mans wat haar en ’n vriend verlede jaar in Stellenbosch gekaap en haar daarna verkrag en vermoor het.

“Ek en my seun is nie ’n gesin nie. Ons is die slagoffers wat lewe in die puin van dit wat eens was.”

Hannah (21) en Cheslin Marsh (22) was studente aan die Universiteit Stellenbosch toe hulle in die Eikestad ontvoer is en haar lyk daarna op 27 Mei 2017 buite die dorp gekry is.

Hannah CorneliusFoto: Facebook

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is Woensdag skuldig bevind aan ontvoering, roof met verswarende omstandighede, verkragting en moord. Nashville Julius is skuldig bevind aan ontvoering en roof met verswarende omstandighede.

Regter Rosheni Allie sal hulle Maandag om 14:00 vonnis.

Willem het vertel hoe sy vrou, Anna (57), ’n “skadu van haarself” ná Hannah se dood was, “ontroosbaar en net op die oppervlak nog in beheer”.

“Niemand weet regtig wat gebeur het daardie oggend toe sy besluit het om in die yskoue, rowwe see te gaan swem nie, maar ek glo nie dat sy haar eie lewe geneem het nie. Ek glo sy het nie meer die fisieke en psigiese krag gehad (ná dit wat gebeur het nie).”

Volgens Willem verstaan Hannah se broer, Andries, nie “die beginsel van die dood nie”, met dié dat hy aan outisme ly.

“Elke aand wanneer ek hom na sy bed toe vat, stop hy voor ’n geraamde foto van Hannah en vra wanneer haar vakansie verby is en sy huis toe kom. Nie ’n enkele dag gaan verby waar hy my nie telkemale vra oor sy ma en wanneer sy ook terugkom nie. Ek is die laaste persoon wat oorbly met wie hy ’n noemenswaardige verhouding het en wanneer ek afsterwe, sal hy alleen wees en in ’n inrigting opgeneem moet word.”

Ondersteuners en familielede in die galery het gehuil tydens Willem se getuienis. Sommige het T-hemde met Hannah se gesig daarop gedra en familielede het met wit rose in hul hande gesit.

Willem is ná Hannah se moord medies ongeskik verklaar en hy twyfel of hy weer as ’n onpartydige advokaat of regspraktisyn sal kan werk. “Ná ’n jaar en ’n half ontvang ek steeds sielkundige behandeling en (ek neem) daagliks anti-depressante, met geen einde in sig nie.”

Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Hy het die hoop uitgespreek dat die hof die vier mans swaar sal straf sodat ander families nie dieselfde lyding hoef deur te gaan nie.

“Hannah was altyd bewus van haar bevoorregte agtergrond en het nooit iets van ons of spesiale behandeling geëis nie. Die tema van hulp aan ander was ’n konstante in haar lewe en ek vermoed dit kon indirek gelei het tot die rede waarom ons vandag hier is.”

Prof. Eleanor Cornelius, Anna se suster, het gevra hoe verduidelik ’n mens die uitwerking “van dít wat elke ouer in die land se grootste vrees is”.

“Jou kind, wat niks verkeerd doen nie, loop haarself in die perfekte storm vas. In haar geval het sy ’n saamrygeleentheid vir ’n vriend gegee, want sy was besorg oor sy veiligheid.”

Toe het “vier monsters” Hannah en Cheslin se pad gekruis, volgens dié professor aan die Universiteit van Johannesburg.

Ek en my seun is nie ’n gesin nie. Ons is die slagoffers wat lewe in die puin van dit wat eens was.

“Nie mans nie, want geen regte man span saam om die onskuldige en weerlose se vryheid van hulle te ontneem deur op sy oerinstink te reageer nie. Geen regte man sit glimlaggend en smalend in ’n hof wanneer hy verhoor word vir sy dade, asof hy niks erger as kattekwaad aangevang het nie.”

Sy het vertel hoe moeilik dit was om vir Hannah se niggies en haar 90-jarige ouma van haar moord te vertel.

Binne tien maande ná Hannah se dood, het haar ma en ouma ook gesterf.

“Paranoia en vrees het by ons voordeur ingestap, en dit is hier om te bly. Daar is ’n leë stoel by elke etenstafel. Elke familiefoto is onvolledig.”

Eleanor het gevra wat ’n mens moet doen “as daar monsters tussen mense bly”.

“In elke land wat die doodstraf het, sou hierdie mense met hul lewe geboet het, en dit is ook die verwagting van binne en buite Suid-Afrika.”

Cheslin Marsh en Willem Cornelius staan Donderdag buite die hofsaal. Foto: Jaco Marais

Marilyn Marsh, Cheslin se ma, het getuig hoe Cheslin in die hospitaal ondanks die pyn gevra het dat sy “die polisie moet sê om na Hannah te soek, want dié mans gaan haar seermaak”.

“As ma het ek so hulpeloos gevoel en myself aanhou afvra: Watter soort mens doen dit met my kind? Hy het mos niks vir julle gemaak nie.”

Sy het dikwels tydens haar getuienis gehuil.

“My kans om Hannah kortliks te ontmoet, en haar vriendelikheid, sal my altyd bybly.”

Adv. Lenro Badenhorst, staatsaanklaer, het aanbeveel dat Witbooi, Parsons en Van Niekerk lewenslange tronkstraf opgelê word.

Badenhorst hou vol dat die mans met ’n gemene doel opgetree het, geen berou getoon het nie, en nie hul samewerking in die ondersoek gegee het nie.

Ondersteuners en familielede van Hannah Cornelius sit Donderdag in die galery van die hooggeregshof in Kaapstad. Van hulle het met wit rose opgedaag.Foto: Jaco Marais
Bl. 1 van die verklaring wat Willem Cornelius, Hannah Cornelius se pa, Donderdag in die hof voorgelees het.Foto: Verskaf
Bl. 2 van die verklaring.Foto: Verskaf
Bl. 3 van die verklaring.Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.