Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Harcourts ‘snuffel vir inligting’ oor Val de Vie

Die eiendomsagentskap Harcourts Winelands was besig met ’n snuffeltog om inligting te bekom om sy saak teen die Val de Vie-landgoed en sy direkteure te versterk.

Dit is die bevinding van die hooggeregshof in Kaapstad nadat die landgoed en sy direkteure dié hof om hulp genader het.

Regter Pearl Mantame het in haar uitspraak Woensdag gesê die eiendomsagentskap het die hofprosedure misbruik en Val de Vie en sy direkteure moet beskerm word. Sy het die aansoek deur die landgoed en sy direkteure toegestaan en die lasbriewe, wat in Desember aan hulle beteken is, tersyde gestel.

Die Val de Vie-landgoed. Foto: Verskaf

Val de Vie Investments het in Desember ’n tussentydse aansoek by die hof ingedien om te keer dat hy sekere inligting en dokumentasie aan Harcourts Winelands moet oorhandig alvorens die arbitrasieverhoor tussen die partye later vanjaar aangehoor word.

Val de Vie Investments, Val de Vie Winelands Lifestyle Estate, die Val de Vie-huiseienaarsverenigings, Renier Swart, Erika Vogel, Morné Bosch, Ryk Neethling, Leon Cronjé en Clifford van der Venter het die hof genader en versoek dat lasbriewe wat deur Harcourts in Desember aan hulle beteken is, tersyde gestel moet word.

Dié lasbriewe spruit uit die geding tussen Val de Vie en Harcourts oor beweerde onwettige kommissie. Dit het gekom nadat Harcourts se akkreditasie in Julie 2017 gekanselleer is as een van die eiendomsagente wat eiendom op Val de Vie mag verkoop nadat hy geweier het om kommissie aan Val de Vie op sy verkope te betaal.

In die aansoek vra Harcourts ’n dringende bevel wat hom weer sal toelaat om eiendom op Val de Vie te verkoop. Val de Vie se eiendomme word vir miljoene rande verkoop en Harcourts voer aan hy kan miljoene rande se verkoopskommissie verloor.

Neethling, die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer, is die bemarkingsdirekteur van Val de Vie. Sy naam word in die hofaansoek genoem omdat hy een van die direkteure is van ’n maatskappy waaraan Harcourts die kommissie moes betaal.

Die partye het daartoe ingestem om die saak eerder te laat arbitreer, en adv. Sean Rosenberg dien as die voorsitter. Ter voorbereiding op die arbitrasieverhoor het Harcourts dagboeke van die ses direkteure deur lasbriewe probeer bekom, asook alle korrespondensie tussen hulle oor wat hulle besluit het rakende wie of watter agentskappe geakkrediteer mag word.

Mantame het in haar uitspraak gesê dit is duidelik dat dit ’n snuffeltog deur Harcourts is om inligting, wat hom in die rigting van ’n moontlike ondervraging kan stuur, te bekom.

Mantame het bevind dat Harcourts “nie seker of bewus is” van dit wat hy deur die lasbriewe wil bekom nie.

Sy het gesê die betoog deur die landgoed – dat die dokumente wat die respondente soek nie relevant is tot die kwessie in die arbitrasieverhoor nie – is nie deur Harcourts betwis nie.

“Dit bewys verder dat dié spekulatiewe optrede niks meer as ’n snuffeltog is nie omdat hy (Harcourts) nie in die stadium kan sê of die dokumentasie wat hy versoek het, relevant tot die verhoor sal wees nie.”

Mantame het bevind dat die lasbriewe “ ’n misbruik van die proses is”.

Sy het koste van die aansoek teen die respondente bekragtig.

Meer oor:  Harcourts  |  Val De Vie  |  Inligting  |  Misbruik  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.