Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hare waai oor aktrise se hare

’n Pretoriase huisvrou sit nou met ’n vet regsrekening nadat sy sonder sukses die aktrise Angelique Potgieter en van haar Facebook-vriende vir laster gedagvaar het.

Angelique Potgieter met haar blonde hare in 2017. Foto: Facebook

Tania Corma Swart (47) van Eastwood in Pretoria en haar dogter, Charné de Vos (24), ’n student, het saam R1,8 miljoen geëis van die aktrise en vyf van haar aanhangers oor katterige aanmerkings wat twee jaar gelede op Facebook gemaak is.

Maar die saak het net te duur geraak en sy het dit toe twee weke gelede teruggetrek, sê Swart.

Die bohaai het begin toe Huisgenoot in Junie 2017 op sy Facebook-blad mense se kommentaar gevra het oor Potgieter se voorkoms. Potgieter het haar hare kort tevore blond gekleur.

Hieroor het ’n Facebook-gebruiker geskryf: “Daai wenkbroue . . . nee o vrek . . . sy lyk so hard!!!”

‘Sy lyk baie hard . . . sy lyk soos ’n man.’

Swart het haar stuiwer in die armbeurs gegooi: “Jy is reg, sy lyk baie hard . . . kyk mooi, vat al daardie lae en lae grimering en vals hare weg, dan lyk sy soos ’n man. Toe sy nog in 7de Laan was, was sy pragtig, baie natuurlik. Ek weet nie wat sy aan haar gesig gedoen het (behalwe die belaglike wenkbroue nie), maar sy lyk soos ’n man.”

Volgens hofstukke het Potgieter ’n skermgreep van Swart se boodskap op haar eie Facebook-blad gesit en onder meer gesê: “Ek het al snaakse comments gekry, maar die is regtig die cherrie op die koek! Soms kan ek regtig net lag en deur kommentaar soos die, die groen monstertjie sien. P.S liefste Tania ek was 24 jaar oud toe ek op 7de Laan was, dis 10 jaar terug!! Natuurlik gaan ek anders lyk . . .”

Sy het die skrywe afgesluit met: #cyberbullies.

Van daar af was dit afdraand, wys Swart se hofstukke.

Tania Corma Swart en haar dogter, Charne’ de Vos. Foto: Facebook

Potgieter het toe 4 800 Facebook-vriende en 21 000 Facebook-volgelinge gehad.

Vyf van hulle het kommentaar gelewer wat Swart só ontstel het dat sy volgens haar hofstukke sielkundige skade opgedoen het.

Hulle het onder meer kommentaar gelewer oor haar en haar dogter se gewig. Tania is self nie ’n “catch” nie en moet liewer gimnasium toe gaan, het iemand gesê. Sy dink sy is ’n “celeb”, maar die enigste persoon wat haar ken, is die kelner agter die toonbank by KFC, lui nog ’n kommentaar.

Swart is bestempel as ongeletterd, soos “poop” en as iemand wat net voorgee dat sy ’n Christen is. En iemand het gesê hulle moet die “groendakkies” bel, want Tania is geestelik versteurd.

Swart meen Potgieter het dit alles veroorsaak omdat sy na haar verwys het as ’n kuberboelie en omdat sy by sekere kommentare goedkeurende emoji’s, soos laggende gesiggies en hande wat klap, geplaas het. Potgieter het ook eers twee dae later die kommentaar van haar blad verwyder en boonop “almal bedank vir hul ondersteuning”.

Swart en haar dogter het besluit om onderskeidelik R1,4 miljoen en R400 000 te eis.

Maar toe raak die saak te duur – en die hooggeregshof in Pretoria het boonop die afgelope week ’n kostebevel aan Swart en Charné opgelê. Die hof het terselfdertyd ’n beswaar wat Potgieter se regspan in Oktober 2018 teen Swart se eisbesonderhede ingedien het, gehandhaaf.

Potgieter het in die beswaar ontken sy het Swart belaster of dat die gewraakte emoji’s op laster neerkom.

Swart het aan Rapport gesê elke huisvrou het ’n ikoon. “Angelique was myne. My renperdjie waarop ek sou wed; my girl, my poppie. Sy is lag-lag die mooiste vrou in Suid-Afrika. Sy hoef nie aan haar voorkoms te verander nie.

“Ek het net ’n doodonskuldige, kliniese stelling oor haar voorkoms gemaak toe Huisgenoot mense genooi het. Toe gaan hang sy my uit op haar Facebook-blad en ek word geboelie.”

Potgieter het Rapport se navrae na haar prokureurs verwys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.