Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hartseer, verligting, woede toe Xander gevonnis word
Stefans Engelbrecht, Marna se pa, Vrydag in die hof met ’n groot foto van sy vermoorde dogter. Foto: Felix Dlangamandla

Verligting, hartseer en woede is die emosionele landskap wat ontvou het nadat Xander Bylsma (21) Vrydag twee keer lewenslange tronkstraf weens die Stella-moorde opgelê is.

Dit word samelopend uitgedien.

“Dankie Here,” het ’n emosionele, bewende Stefans Engelbrecht gesê nadat Bylsma ook in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, lewenslange tronkstraf opgelê is vir die moord op sy dogter, Marna (16).

Marna Engelbrecht
Marna Engelbrecht
Dankie Here.

Dít ondanks die feit dat regter Ronald Hendricks vroeër bevind het die moord op haar in 2018 was nie beplan nie, maar op die ingewing van die oomblik. Die minimum vonnis vir onbeplande moord is 15 jaar tronkstraf, maar ’n regter kán swaarder vonnis.

Bylsma is wel skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie. Die minimum vonnis hiervoor is lewenslange tronkstraf.

Die boesemvriendinne se lyke is Saterdagoggend 26 Mei 2018 in hul koshuis by die Hoërskool Stella gevind nadat albei ’n pynlike, stadige dood gesterf het weens verwurging.

Die hof het bevind Bylsma se motief was woede en jaloesie omdat Sharnelle nie met hom wou versoen nie en wrewel teenoor Marna omdat ook sy teen ’n versoening gekant was.

Hendricks het Vrydag harde woorde gehad vir Bylsma oor die erns van die moorde wat twee jong meisies se lewe “voortydig kortgeknip het”. Dít, en die feit dat daar ’n tydsverloop tussen die moorde was, is erg verswarend omdat Bylsma kans gehad het om ná die eerste moord op Marna te besin.

“Dit was geslagsgegronde geweld teen twee kwesbare jong meisies. U optrede was walglik en wreed minagtend teenoor die meisies. U het geen respek aan hulle getoon nie en hulle in vulgêre, ginekologiese terme sleggesê.”

Hendricks het gesê daar is sterk stemme uit alle gemeenskappe teen geslagsgegronde geweld van mans teenoor vroue.

’n Lewe het te goedkoop geword. Howe lê te maklik ligter strawwe op.

“Die enigste manier om die golf van geweld en moorde landwyd te stop is deur swaar strawwe op te lê. ’n Lewe het te goedkoop geword. Howe lê te maklik ligter strawwe op.”

Sharnelle se ma, Sonja, wat die vonnisverrigtinge by haar huis in Koster op televisie gevolg het, het ná die verrigtinge op haar knieë neergesak, het Leonora Burger, haar vriendin, gesê.

“Sy het gesê: ‘Dankie Here. My kind, daar is geregtigheid vir jou.’ Sy was baie emosioneel en het gehuil. Xander het Lallie, haar hele lewe, van haar af weggeneem.”

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, en haar stiefma, Anna, is “verlig” die hofsaak is verby en tevrede met die swaar vonnisse.

“Dit verander egter niks aan wat gebeur het nie,” sê Ronnie.

Sharnelle Hough
Sharnelle Hough

Gielie Hough, Sharnelle se oupa, het sy kop geskud en teen die trane geveg.

Monté Bylsma, Xander se pa, het gesê hy het een woord om sy gevoelens te beskryf: “Woede.” Xander se ma, Mercia, het met haar kop in haar hande gaan sit toe sy om kommentaar gevra is.

Conrad Bester, Bylsma se prokureur, sê Xander het sy regspan nou opdrag gegee om aansoek te doen om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis. Die stukke hiervoor moet nog ingedien word. Bylsma was nie ooglopend ontsteld ná die vonnis nie. Hy ontken steeds skuld.

Dit lyk asof u ’n woedeprobleem het, maar nie daaraan aandag gee nie.
Marna Engelbrecht se ma, Rianet, en haar ouer suster, Riané, Vrydag by die hof met ’n foto van Marna. Foto: Felix Dlangamandla
Sharnelle Hough se oom, Gielie Hough, en stiefma, Anna Hough, was bly ná die vonnisoplegging. By hulle staan Giel Hough sr. (links), Sharnelle se oupa. Foto: Felix Dlangamandla
Xander Bylsma het vóór die vonnisoplegging Vrydag op die oog af ontspanne staan en lag en gesels met sy ouers, Mercia en Monté. Foto: Felix Dlangamandla
Xander Bylsma Vrydag in die beskuldigdebank. Foto: Felix Dlangamandla
Kapt. Markus Ferreira, ondersoekbeampte in die saak. Foto: Felix Dlangamandla
Monté en Mercia Bylsma, Xander se ouers, Vrydag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla
Adv. Johann Smit SC, wat aan stuur van die staat se regspan was. Foto: Felix Dlangamandla
Advv. Martie van Wyk en Siphiwo Jika, albei deel van die staat se regspan. Foto: Felix Dlangamandla

Adv. Johann Smit SC, wat aan stuur van die staat se regspan was, sê hy is tevrede met die vonnis en dat hy vir die doodstraf sou betoog as hy kon. Kapt. Markus Ferreira, die ondersoekbeampte, sê: “Die boek is nou mooi toegemaak.”

Regter Hendricks het vóór vonnisoplegging gesê die feit dat Bylsma jonk (19), ’n eerste oortreder en emosioneel onvolwasse was toe die moorde gepleeg is, weeg nie swaar genoeg om ’n ligter vonnis op te lê as wat die wet voorskryf nie. Hendricks het sterk gesteun op die bevindinge van ’n voorvonnisverslag om aan te toon hoe “ernstig, koelbloedig en lafhartig” albei moorde was.

Monté Bylsma sit in die galery, terwyl ’n familielid Mercia Bylsma, Xander se ma, troos nadat haar seun tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis is. Foto: Felix Dlangamandla

“Daarin is bevind u het geen berou nie. Dit kan ’n struikelblok wees in u begrip van die lewenslange leed wat u die slagoffers se families aangedoen het,” het Hendricks gesê.

“Dit lyk asof u ’n woedeprobleem het, maar nie daaraan aandag gee nie. U ouers het moontlik nie u ontwikkeling behoorlik dopgehou nie en beheer oor u verloor.”

Hendricks het beklemtoon Bylsma was veronderstel om Marna, sy kleinniggie, te beskerm, maar toe vermoor hy haar.

Hendricks het ook uit die voorvonnisverslag aangehaal en gesê Bylsma se dreigemente om Marna se pa te skiet dui op ’n gebrek aan insig in die gevolge van sy gedrag, asook ’n gebrek aan respek vir volwassenes.

“U is moontlik selfsugtig en sal enigiets doen om uself te bevredig.”

Getuienis is ook gehoor dat Bylsma voor die moorde gedreig het om Marna te skiet en haar gewaarsku het om “uit sy sake te bly”.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Monté Bylsma  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.