Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Heidelberg-moord: Beskuldige sterf in tronk

Alice Graham, wat saam met haar seun en nog ’n man weens die moord op Andries Swanepoel (58) van Heidelberg in Gauteng tereggestaan het, is Woensdag in die Johannesburg-gevangenis, ook bekend as Sun City, dood.

Graham (44) sou Donderdag saam met haar seun, James Randall (22), en Clifford Basson (64) in die distrikshof in Heidelberg in verband met die moord verskyn het.

Hannes Beukes, haar regsverteenwoordiger, het gesê die ondersoekbeampte het die hof meegedeel dat Graham Woensdag gesterf het.

“Die omstandighede van haar dood word ondersoek. Die moontlikheid van selfdood word nie uitgesluit nie,” het Beukes gesê.

Randall en Basson word in die Heidelberg-tronk aangehou.

Swanepoel het saam met die beskuldigdes in ’n woonwa en tent op ’n erf in A.G. Visser-straat in Heidelberg gewoon. Daar is ook ’n leë huis op die erf.

Swanepoel is na bewering op die aand van 24 Augustus met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan, na ’n slaapkamer in die huis gesleep en daar gelos. Hy is later op die toneel dood verklaar.

Graham en Swanepoel was lewensmaats. Die paartjie is glo gereeld in die omgewing gesien waar hulle kruise en handsakke op straat verkoop het.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Swanepoel is erg aangerand. Hy het ook ’n groot oop wond agter sy regteroor gehad. Dit lyk asof hy met ’n stok aangerand is. Die stok is daarna glo aan die brand gesteek.

Volgens Beukes was Basson tydens die moord uit op parool. Hy het ook ’n vorige veroordeling vir onsedelike aanranding.

Randall en Basson word ook van die verkragting van ’n minderjarige kind aangekla.

“Die hof wag steeds op ’n verslag deur ’n maatskaplike werker dat ’n (bykomende) klag van seksuele uitbuiting van ’n minderjarige kind (moontlik) tot die klagstaat gevoeg word,” het Beukes gesê.

Die saak is tot 20 Januarie uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.