Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Helen Suzman-stigting weer hof toe oor ramptoestand

Die Helen Suzman-stigting sit sy stryd voort om ’n hofbevel te kry wat die parlement en die uitvoerende gesag sal dwing om hul magte, soos in die Grondwet uiteengesit, terug te trek.

Francis Antonie, direkteur van die stigting, sê in ’n verklaring hulle het op 24 Julie hul jongste aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien nadat die aanvanklike aansoek by die konstitusionele hof op tegniese gronde van die hand gewys is. Dié hof het op 3 Julie beslis die aansoek val nie onder sy eksklusiewe jurisdiksie nie.

Francis Antonie

Antonie sê hulle het die uitspraak bestudeer en besluit om die saak opnuut by die hooggeregshof in te dien.

“Dit is nie ’n eksplisiete aanval op beleidskeuses of ’n waardeoordeel oor bestaande regulasies nie. Die doel van die aansoek is om ons konstitusionele bedeling te herstel.”

Die stigting voer aan dat die parlement en die uitvoerende gesag in die nadraai van die verklaring van ’n ramptoestand aktiewe stappe moes doen om hul grondwetlik voorgeskrewe rolle terug te neem.

“Hulle het dit nie gedoen nie. In plaas daarvan het hulle vier maande lank toegelaat dat die minister (van samewerkende regering en tradisionele sake) alleen, of saam met die koronavirusbevelsraad, wette maak ten opsigte van die staat se reaksie op die pandemie,” lui die verklaring.

Die Wet op Rampbestuur gee aan dié minister – dr. Nkosazana Dlamini-Zuma – uiteenlopende wetgewende en uitvoerende magte om op ’n ramp te kan reageer.

“En hoewel dit geregverdig kon wees om dié magte te sentraliseer weens die skielike bedreiging van Covid-19, kan hierdie basiese afstanddoening van die Grondwet se skeiding van magte net vir ’n kort rukkie verduur word, naamlik totdat die parlement en die uitvoerende gesag hulself kan organiseer en hul wetgewende en uitvoerende funksies kan uitoefen ten opsigte van die bedreigings van Covid-19,” lui die verklaring.

Die stigting voer aan die parlement het ’n plig om wette te maak wat die staat se reaksie op die pandemie reguleer, terwyl die uitvoerende gesag dit moet inisieer en uiteindelik toepas.

“Net deur hierdie pligte na te kom, sal die huidige verval van die skeiding van magte herstel word en sal Suid-Afrika se demokrasie tot konstitusionele normaliteit herstel word,” lui die verklaring.

Die stigting voer aan die parlement en uitvoerende gesag moes ’n aktiewer rol daarin gespeel het om hul grondwetlike pligte terug te neem nadat die ramptoestand afgekondig is.

“Dit lyk egter of hulle daarmee tevrede is dat hul gesag deur ander uitgeoefen word, oënskynlik vir so lank as wat Covid-19 ’n bedreiging is,” lui die verklaring.

Meer oor:  Helen Suzman-Stigting  |  Hofbevel  |  Stryd  |  Ramptoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.