Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Henri beken glo teenoor vriend

Henri van Breda, wat Donderdag nog volgehou het hy het nié op een na sy hele gesin met ’n byl uitgewis nie, het glo vroeër ’n bekentenis teenoor ’n vriend gemaak.

’n Bewoë Stefan van der Westhuizen toe Henri van Breda skuldig bevind is aan die moorde.

Rapport verneem van bronne in die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) dat Stefan van der Westhuizen (23), ’n voormalige vriend van Henri, die owerhede genader het met dié inligting.

Met Henri se skuldigbevinding verlede week het hofgangers verbaas opgekyk toe Van der Westhuizen hoorbaar begin snik.

“Ai, my vriend . . .” het hy gesug en sy trane afgedroog toe polisiebeamptes Henri geboei uit die hof lei.

Henri wil appelleer teen die bevinding dat hy sy pa, Martin, ma, Teresa, en broer, Rudi, vermoor het en sy suster, Marli, probeer vermoor het.

Van der Westhuizen word tans in ’n Kaapse kliniek vir depressie behandel.

Hy sê aan Rapport hy was baie geheg aan Henri en Marli.

Hy het die Van Breda’s in 2015 ontmoet en het gereeld saam met Henri gekuier. Hulle het gereeld soesji gaan eet, gesels en saam gerook.

Henri van Breda word na die aanhoudingselle onder in die hofgebou geneem. Foto: Edrea du Toit

Henri is tydens sy verhoor in hegtenis geneem vir die besit van dagga. Hy is vrygespreek toe sy meisie, Da­nielle Janse van Rensburg, erken het dit was haar dagga.

Van der Westhuizen sê die enigste gevaarligte wat aanvanklik geflikker het, was Henri se musieksmaak. “Ek het die rockmusiek wat Henri in die motor gespeel het absoluut gehaat, maar wou dit nie vir hom sê nie. Dit sou sy hart gebreek het,” sê hy half verleë.

Maar die verhouding het begin versuur in die herfs van 2016.

Henri het hom een aand opgewonde genooi om die gruwelprent Hardcore Henry in Claremont te gaan kyk, vertel hy. Die karakter Henry word opgewek uit die dood en is deels mens en robot. Sy geheue is uitgewis en hy moet sy vrou red van ’n psigopaat wat die wêreld wil oorneem.

Van der Westhuizen was skepties, want die fliek het eers om 23:00 begin. Hy onthou veral hoe grusaam die fliek en hoe ironies die titel was.

By nog ’n geleentheid was hulle op pad na die bioskoop in die Cavendish Square-winkelsentrum in Claremont.

“Henri was ongewoon stil, nie lekker nie; weet nie of hy siek was nie.

“Ek kon aanvoel dat iets hom pla. Ek moes net weet wat presies.”

Hulle het toe gery. “Ek het opgef*k,” het Henri skielik gesê.

Van der Westhuizen was sprakeloos en verward oor dié skielike opmerking.

Danielle Janse van Rensburg in 2016.
Só lyk Danielle Janse van Rensburg nou.

“Ek sal nooit die emosie in Henri se oë vergeet nie, die trane . . .” sê hy.  Die res van die rit was in stilte.

“Ek het gevoel of my hart aan die brand was, asof ek Henri net daar aan die keel kon gryp. Net die gedagte dat ek dalk lángs ’n moordenaar sit!”

Die spieël het finaal tussen hulle gebreek toe Van der Westhuizen kort daarna vir hom gesê het hy dink Marli begin glo dit was haar broer wat hulle aangeval het.

“Hy het rooi geword in sy gesig,” sê Van der Westhuizen.

Henri het hom in ’n woedebui aan die nek gegryp, sê hy. Na dié voorval het die twee mekaar minder gesien.

Van der Westhuizen het Henri een of twee keer in die hof gaan ondersteun. Hy glimlag verleë: “Henri was toe nie meer so gaaf met my nie.”

  • Adv. Louise Buikman, Marli se kurator, gaan môre ’n verslag oor die 19-jarige meisie se vordering aan die hooggeregshof voorlê.

Sy moet ook redes aanvoer waarom haar kuratorskap verleng of beëindig moet word.

Die staat het ter verswaring van Henri se vonnis aangevoer Marli moet saamleef met die wete dat haar broer haar gesin aangeval het.

Meer oor:  Henri Van  |  Breda  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.