Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Henri: Ek was te bang om my pa en broer te help
Henri van Breda in die hooggeregshof waar hy moes demonstreer hoe die aanvaller volgens hom sy pa, Martin, en broer, Rudi, aangeval het. Skermgreep: Le Roux Schoeman

Met ’n replika van die moordbyl in die hand het Henri van Breda gewys hoe ’n aanvaller, wat hy beweer soos ’n “maniak gelag” en hom ook aangeval het, sy pa doodgeslaan het.

“Die tweede hou (aan sy pa) was meer horisontaal . . . Ek het nie gesien waar die eerste hou geland het nie. Maar ná die eerste hou, het sy liggaam slap geword,” het die 23-jarige Woensdag getuig op sy tweede dag (op sy verjaarsdag) in die getuiebank.

Volgens Van Breda het hy uit vrees in die hoek van sy kamer bly staan tydens die aanval. Hy was te bang om sy broer en pa te help.

Regter Siraj Desai het vir Van Breda gevra: “Jy het niks gedoen nie en jy skryf dit toe aan jou vrees?”

“Ja,” antwoord Van Breda.

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, het die kruisondervraging voortgesit en vir Van Breda gevra of hy sy suster, Marli, probeer waarsku het teen die aanvaller.

“Nee . . . as ek helder gedink het, sou ek hierdie goed gedoen het. As ek nie so bang en besluiteloos was nie.”

Regter Siraj Desai. Foto: Jaco Marais

Desai vra hom weer: “Laat ek reg verstaan: Jy was te bang om iets te doen? Korrek?”

Van Breda antwoord en sê: “Ja. Ek stem saam.”

Die getuie en regter staar ’n paar sekondes na mekaar, gevolg deur ’n lang pouse en Desai wat ’n nota in sy boek maak.

Galloway het hom in die oggendsessie die meeste van die tyd oor die aanval op sy gesin uitgevra.

Sy het, luidens sy getuienis, gevra of die aanvaller, benewens die gil wat hy geuiter het, geweet het hy was in die kamer.

“Het die aanvaller jou heeltemal geïgnoreer?” wou Galloway by Van Breda weet.

“Ja, dit wil so voorkom. Ek kan nie verstaan hoekom nie,” het Van Breda gesê.

As ek nie so bang was nie en ’n besluit kon neem oor wat ek kan doen.
Henri van Breda

Nadat die res van die gesin aangeval is, het die man teruggegaan na die slaapkamer en Van Breda gesien, aldus sy pleitverduideliking.

“Hy het na my toe gekom en soos ’n maniak gelag,” het Van Breda getuig.

“Gegiggel?” wou Desai weet.

“Ja,” het Van Breda geantwoord.

Galloway het vir Van Breda gevra hoekom hy niks gedoen het om sy gesin te help nie.

“As ek helder gedink het, sou ek dit seker gedoen het. As ek nie so bang was nie en ’n besluit kon neem oor wat ek kan doen,” het hy gesê.

Later het Galloway vir Van Breda gevra of die byl en mes in die hof uit sy huis kom. Hy kon nie bevestig of die byl uit hul huis kom nie, maar die mes lyk soos die een wat in hul kombuis gebruik is.

Galloway het vir Van Breda gevra of hy nie dink dit is vreemd dat ’n aanvaller sonder wapens na hul huis kom, ’n byl en mes in die huis neem, die gesin daarmee aanval, die wapens daar los en dan vlug nie.

“Dit is, ja,” het hy geantwoord.

Die verhoor duur voort.



Meer oor:  Byl  |  Bang  |  Broer  |  Help  |  Pa  |  Henri Van Breda  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.