Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Eksklusief: Hy is ’n verskriklik liefdevolle kind – en onskuldig, sê sy ouma
Henri-saak: Henri mik oorsee

As Henri van Breda Maandag vrygespreek word, wil hy so gou moontlik emigreer en nooit weer terugkom nie.

Henri by sy terugkoms in die Kaap ná sy besoek aan sy ouma.Foto: jaco marais

Só sê die vermeende bylmoordenaar se 94-jarige ouma, Rika du Toit. Henri het haar die afgelope week by haar ouetehuis in Kempton Park kom groet. Sy sê die familie wil hê hy moet in Kanada gaan bly.

Du Toit was Saterdag in trane toe sy oor die “liefdevolste” van haar 18 kleinkinders se laaste besoek gepraat het.

Henri word daarvan beskuldig dat hy sy ma, Teresa, pa, Martin, en broer, Rudi, met ’n byl doodgekap het in hul deftige huis in Stellenbosch. Maar sy ouma glo onwrikbaar in sy onskuld.

“Daar is nie ’n kans dat hy dit kon doen nie. Sy pa en sy broer was albei baie groter as hy en hy is net nie fisiek in staat om hulle leed aan te doen nie,” sê Du Toit. Sy hoop net die hof kan dit sien.

Vir haar is die kwellende vraag steeds wie haar pragtige dogter en haar familie vermoor het.

Sy sê Teresa was ongelukkig getroud en dat Martin vir Henri sleg behandel het.

?Ouma Rika stal dié foto in haar huis uit.

“Rudi was altyd vir hom die perfekte seun, maar hy het altyd neergesien op Henri. As Henri byvoorbeeld gehakkel het, het hy die heeltyd vir hom gesê: ‘praat reg, praat reg’.”

Du Toit sê Henri het haar Woensdag vertel hoe baie hy sy suster, Marli, mis. Marli is baie ernstig beseer in die bylaanval. Omdat sy op die staat se lys van getuies is, mag Henri haar nie sien voordat die saak afgehandel is nie.

“Die arme kind is vreeslik ontsteld dat hy nie met Marli mag praat nie,” sê Du Toit.

Toe hy Woensdag hier was, het hy styf langs haar hier op die leuning van die rusbank gesit, sê Du Toit.

“Hy het my die hele tyd vasgehou. Hy is ’n verskriklike liefdevolle kind wat in enigeen se hart inkruip. Ek dink hy gaan eendag ’n baie goeie eggenoot wees.”

Hanlie en Narita du Toit, twee van haar dogters, en Rudi du Toit, Henri se neef, het saam met hulle middagete geëet.

Henri en sy meisie van die afgelope twee jaar, Danielle Janse van Rensburg, het tot heel laaste by haar gekuier.

“Danielle is ’n oulike dame. Die twee pas vir my baie goed bymekaar,” sê Du Toit.

Rika du Toit (94) glo sy het haar kleinseun Henri van Breda vir die laaste keer gegroet. Foto: deon raath

Al glo sy Henri is onskuldig, besef sy enigiets kan Maandag in die hof gebeur.

“Ek glo die Here is ons herder en dat alles goed vir Henri sal verloop,” het Du Toit Saterdag gesê.

Henri kry sielkundige berading om hom voor te berei op die moontlikheid dat hy tronk toe kan gaan.

“Ek kry sommer koue rillings as ek daaraan dink.”

Maar een ding is seker, as hy vrygespreek word, wil hy weg uit die land.

“Hy wil nie hier bly nie weens al die slegte publisiteit.”

Du Toit sê sy was verheug toe die gesin destyds ná jare in Australië besluit het om terug te keer na Suid-Afrika omdat sy meer van haar kleinkinders sou sien.

“Ek het nie in my wildste drome gedink watter hel daar vir hulle hier wag nie.”

Du Toit sê sy moes die afgelope drie jaar vir haar ’n “pantserpak” aantrek om al die slegte nuus oor haar kleinseun te hanteer.

“Ek het geleer om daarmee saam te leef. Wat my wel nog onderkry, is wanneer foto’s van Teresa op die TV-skerm of in koerantberigte verskyn. Dit kry my soms onder wanneer ek onverwags in die foto’s moet vaskyk.”

’n Ander familielid van Henri sê hy kon nie sy trane terughou nie toe hy hierdie week in die koerante foto’s sien van sy aankoms in Johannesburg.

“Jy kon die kringe om sy oë sien. Sy gesig is ingeval. Danielle lyk soos ’n verskrikte konyn wat net wil weghardloop. Ek dink hy is moer gestres.”

Henri en Danielle het sedert Februarie ’n woonstel in Wynberg in die Kaap gehuur. Hulle moes vroeër uit hul huurhuis in Lakeside naby Muizenberg trek omdat dit te duur was. In Wynberg is die huur glo R6 000.

Hulle leef soos kluisenaars, vertel ’n buurvrou. “Hulle kom nooit uit nie. Toe ek hulle eendag vra om te sê as hulle iets nodig het, het die man net geskree: ‘Nee, nee, ons is oukei!’ Hulle doen alles online lyk dit my. Pick n Pay lewer hul kos af.”

Sy sê sy het nooit geweet dis “dié Henri” wat op die boonste vloer woon nie. “Hy het ongelooflik baie gewig verloor.”

’n Buurman sê die twee het altyd “goed gekoop by sulke obskure karakters oorkant by die begraafplaas. Dan hardloop hulle terug met sulke groot smaails”.

Henri het nie sy pa se broer André, wat in Pretoria woon, besoek toe hy in Gauteng was nie.

André se tweelingbroer, Bailey, het vroeër Henri se weergawe van wat tydens die aanval op sy gesin gebeur het, as ’n “feëverhaal” afgemaak. Die broers sal nie Maandag in die hof wees nie, maar het glo planne om die vonnisoplegging by te woon – sou Henri skuldig bevind word. Nie een van Henri se ooms wou bespiegel oor die uitslag van die saak nie.

Janse van Rensburg se ma, Heloise Brown, sê haar “hart is by Danielle”. “Ons is so lief vir haar en sal haar altyd ondersteun en bystaan, maar mis haar net so verskriklik. Ek wil niks meer as dít sê nie.”

Indien regter Siraj Desai Henri se storie dat die gesin deur ’n indringer aangeval is, verwerp en hom skuldig bevind, kan sy borgtogvoorwaardes ingetrek word en kan hy dadelik tronk toe gaan. Sy regspan sal na verwagting egter dadelik aansoek doen dat sy borgtog verleng word in afwagting van die vonnisoplegging.

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Vrygespreek  |  Bylmoorde  |  Byl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.