Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Henri van Breda na hoogste hof: Staat dien sy stukke in

Henri van Breda moet ’n paar goed onthou in sy aansoek by die konstitusionele hof in ’n poging om sy skuldigbevinding en vonnis weens die moord op sy ouers en broer, en die poging tot moord op sy suster, ter syde te laat stel, sê die staat.

Van Breda moet onthou dat sy suster, Marli, op die randjie van die dood was, maar nogtans het hy twee uur en 40 minute ná die aanval eers die nooddienste gebel.

Hy moet ook onthou dat hy vyf minute en 30 sekondes lank met die operateur van die nooddienste gepraat het alvorens hy genoem het dat Marli steeds beweeg.

Hy moet ook nie vergeet nie dat hy homself met ’n byl bewapen het, sy broer, Rudi, in sy slaap met die byl aangeval het en daarna ook sy pa, Martin, en sy ma, Teresa, doodgekap het. Die hof was korrek om hom daaraan skuldig te bevind dat hy die moorde beplan het.

Dít is van die argumente wat die staat noem in opponerende stukke wat ingedien is teen Van Breda se aansoek in die konstitusionele hof in Johannesburg waarin hy probeer om dele van die Suid-Afrikaanse Strafproseswet ongrondwetlik te laat verklaar.

Henri van BredaFoto: Jaco Marais

Van Breda het sy aansoek op 31 Mei ingedien en die staat het die kennisgewing dat hy die aansoek gaan teenstaan op Donderdag 13 Junie ingedien.

Van Breda voer aan dat ’n bepaling van die Strafproseswet ongrondwetlik is. Hy sê indien iemand in die streekhof skuldig bevind word aan moord en tot lewenslange tronkstraf gevonnis word, het daardie persoon outomaties die reg om appèl aan te teken by ’n hoër hof. In die geval van ’n soortgelyke skuldigbevinding en vonnis in die hooggeregshof, moet die persoon eers aansoek doen om verlof tot appèl. Dit is onregverdig, voer Van Breda aan.

Die staat sê Van Breda het reeds by vier geleenthede dieselfde argumente voor die hof gebring en daar is telkens bevind dit dra geen water nie.

Nou kom hy vorendag met ’n argument dat die Strafproseswet ongrondwetlik is – ’n heel nuwe argument wat hy nooit tevore genoem het in sy ander aansoeke om verlof om appèl nie.

Lewenslange vonnis is in 1997 as ’n keuse van ’n hoër vonnis toegevoeg tot die jurisdiksie van streekhowe. Dit is nie ’n gevestigde mag soos in die hooggeregshof nie. Hoewel gevonniste misdadigers wat in ’n streekhof tereggestaan het die outomatiese keuse gegee word om appèl aan te teken, neem dit geen van die regte weg van ’n misdadiger wat in die hooggeregshof gevonnis is nie, sê die staat.

* Regter Siraj Desai het Van Breda in Junie 2018 drie keer lewenslange tronkstraf opgelê weens die moord in Januarie 2015 op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en sy broer, Rudi (22). Hy is ook 15 jaar tronkstraf opgelê weens poging tot moord op sy suster, Marli (16 tydens die voorval).

* Desai het Van Breda se aansoek om verlof tot appèl op 20 Augustus 2018 in die hooggeregshof in Kaapstad van die hand gewys. Hy het gesê daar is geen vooruitsig dat ’n ander hof tot ’n ander bevinding kan kom nie.

* Van Breda se eerste aansoek in die appèlhof in Bloemfontein was in Augustus 2018, maar dit is in November 2018 van die hand gewys.

* Hierna het sy regspan ’n aansoek by die regter-president ingedien kragtens art. 17 (2)(f) van die Wet op Hoër Howe. Hierdie artikel gee die regter-president die mag om ’n aansoek te heroorweeg wat reeds deur die hof van die hand gewys is.

* Op 16 Mei het die regter-president van die appèlhof, regter Mandisa Maya, die aansoek van die hand gewys omdat “geen buitengewone omstandighede bewys is wat ’n ander besluit regverdig nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.