Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Henri van Breda wil dele van wet ongrondwetlik laat verklaar

Henri van Breda gaan probeer om dele van die Suid-Afrikaanse Strafproseswet ongrondwetlik te laat verklaar.

Dit blyk uit sy jongste aansoek in die konstitusionele hof in Johannesburg wat hy Dinsdag ingedien het.

Dit is ’n spesifieke gedeelte van die Strafproseswet waarop hy sy aansoek grond in ’n poging om die hof te oortuig om hom verlof toe te staan om teen sy vonnis en skuldigbevinding te mag appelleer.

Regter Siraj Desai het Van Breda in Junie 2018 drie keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord in Januarie 2015 op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en sy broer, Rudi (22). Hy is ook 15 jaar tronkstraf vir poging tot moord op sy suster, Marli (16 tydens die voorval), opgelê.

Henri van Breda word na die aanhoudingselle in die hooggeregshof in Kaapstad geneem nadat hy gevonnis is. Foto: Jaco Marais

Desai het Van Breda se aansoek om verlof tot appèl op 20 Augustus 2018 in die hooggeregshof in Kaapstad van die hand gewys. Hy het gesê daar is geen vooruitsig dat ’n ander hof tot ’n ander bevinding kan kom nie.

Van Breda se eerste aansoek in die appèlhof in Bloemfontein was in Augustus 2018, maar dit is in November 2018 van die hand gewys.

Hierna het sy regspan ’n aansoek by die regter-president ingevolge art. 17 (2)(f) van die Wet op Hoër Howe ingedien. Hierdie aansoek gee die regter-president die mag om ’n aansoek te heroorweeg wat reeds deur die hof van die hand gewys is.

Op 16 Mei het die regter-president van die appèlhof, regter Mandisa Maya, die aansoek van die hand gewys omdat “daar geen buitengewone omstandighede bewys is wat ’n ander besluit regverdig nie”.

Lorinda van Niekerk, Van Breda se prokureur, het in ’n beëdigde verklaring wat gebruik is om die aansoek by die konstitusionele hof in te dien, gesê ingevolge art. 316 van die Strafproseswet moet ’n beskuldigde ’n suksesvolle aansoek om verlof om te mag appelleer teen ’n uitspraak en vonnis van ’n hooggeregshof indien, alvorens appèl aangeteken kan word.

Dit is dele van hierdie artikel wat hulle dalk later as ongrondwetlik wil laat verklaar, omdat ingevolge art. 309 (B), enige persoon wat deur ’n laer hof tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, outomaties die reg het om te appelleer en dat hulle nie nodig het om ’n aansoek om verlof om appèl in te dien nie.

“Sodoende word ’n beskuldigde outomaties die reg tot ’n tweede verhoor toegeken op appèl,” lui Van Niekerk se verklaring.

Volgens die verklaring het elke persoon die reg om nie willekeurig van die reg tot vryheid weerhou te word sonder goeie rede nie. Wat daarmee saamgaan is die beskuldigde se reg tot ’n regverdige verhoor, wat die reg tot ’n appèl of hersiening deur ’n hoër hof insluit.

“Lewenslange tronkstraf is die swaarste straf in Suid-Afrika en dit dien die mees drastiese, gewigtige en permanente slag op ’n mens se regte toe.”

Die Van Breda-gesin. Foto: Verskaf

Van Niekerk het in die hofstukke aangevoer Van Breda word gedwing om aansoek om verlof tot appèl te doen en kom nie outomaties in aanmerking daarvoor nie.

Indien die konstitusionele hof die jongste aansoek van die hand wys, beoog Van Breda om te poog om hierdie dele van die Strafproseswet ongrondwetlik te laat verklaar.

Die staat het nou minstens  tien dae tyd om repliek te lewer en redes te gee oor waarom verlof nie toegestaan moet word nie.

Vrae het ontstaan oor wie vir hierdie aansoeke betaal en of Van Breda geld het om die aansoek te finansier. Hy het aanvanklik miljoene rande aan sy regspan betaal om hom te verteenwoordig, maar daar is nie sekerheid of hierdie geld die aansoeke dek wat gekom het ná Desai se uitspraak nie.

Van Niekerk sê dit sal nie van pas wees om kommentaar oor haar kliënt se geldsake te lewer nie.

Bailey van Breda, een van Henri se ooms en ook ’n trustee van die familietrust, het by navraag gesê hy dra geen kennis van die finansiële kant van die saak nie.

Meer oor:  Appèl  |  Moord  |  Hof  |  Henri Van Breda  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.