Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Hermanus: Vingermerke in bloed

Inwoners van die woonkompleks in Hermanus waar ’n 95-jarige vrou Donderdag vermoor is, vermoed dat die moordenaars dalk hul buurvrou wou stilmaak.

Joan Anderson (95)

Joan Anderson sou binnekort aan ’n uitkenningsparade deelgeneem het om rowers te identifiseer wat haar verlede jaar by haar werk aangehou het. Anderson het op haar hoë ouderdom nog in die kantoor van ’n verhuringsagent vir vakansiewoonstelle gewerk.

Toe die rowers haar verlede jaar oorval, het sy dapper geweier om die kluis se sleutels vir hulle te gee. Hulle is sedertdien aangekeer, maar die polisiekantoor en al die bewysstukke het tydens die onlangse onluste in Hermanus afgebrand. Die roofsaak moes van voor af ondersoek word en die vermeende rowers is vir eers vrygelaat.

Anderson het alleen in meenthuis no. 10 in die sentrum in Eastcliff, Hermanus, gewoon. Dit lyk asof sy aan die slaap was op haar rusbank in die sitkamer toe sy Donderdag in die vroeë oggendure vermoor is.

Saterdag met Rapport se besoek aan die sentrum, ’n klipgooi van Hermanus se sakekern, was die bloederige merke van drie vingers op die roomkleurige rusbank die stille getuienis van die gru-aanval. In die sitkamer het ’n omgekeerde tafel, stoele en tydskrifte op die vloer gelê.

Die aanvallers het deur die venster toegang tot die meenthuis gekry. Foto’s: Edrea du Toit

Volgens ’n buurvrou, wat anoniem wil bly, het twee van Anderson se vriendinne Donderdagmiddag gesien haar voordeur staan half oop.

“Toe kom hulle op die verskriklike toneel af,” sê die buurvrou.
“Joan se kop was met ’n handdoek toegebind. Die bad was vol bloed. Ek dink sy was in haar slaapklere . . . Dit was ’n grusame gesig. Die twee dames moes berading kry ná wat hulle daar gesien het.”

Die aanvaller(s) het deur ’n venster toegang tot die meenthuis gekry.

Volgens die buurvrou was Anderson ’n sagmoedige, sprankelende mens. “Sy sou ’n probleempie soos die afgelope Dinsdag, toe sy met ’n vasgeknypte senuwee in haar rug na die fisio is, weglag met: ‘Ag wat, ek sal oukei wees!’”

Volgens die buurvrou het sy die laaste tyd op die rusbank geslaap, omdat sy nie haar been hoog genoeg kon lig om op haar bed te kom nie.

Die voorkamer is in ’n warboel.

“Joan het alles met vreugde gedoen, sy sou skuifel-skuifel loop. As sy wou dorp toe gaan, dan sê sy: ‘Nee man, ek vat sommer die tuk-tuk.’”

Nes die ander inwoners van die sentrum met sy netjiese gemeenskaplike tuin en groen grasperk, glo sy dat die moord verband hou met verlede jaar se rooftog.

“Die dapper vrou . . . Ek dink hulle het gekom vir haar . . .” sê sy.

Hierdie Woensdag sou Anderson se 96ste verjaarsdag wees. “Sy kon so gesellig verkeer, dan sou sy sê: ‘Wag, ek bring my eie wyn!’ Dan gee sy so ’n dansie.”

* Teen saktyd Saterdag is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Moord  |  Bejaarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.